Romeine 8:26. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.
Ons almal ken die waarde van gebed. Maar daar kom tye in elkeen van ons se lewens waar dit moeilik is om te bid. Dalk het jy ook al gesê “Dit voel asof ek teen die plafon vasbid.” Elke gelowige bereik soms ’n plek waar ons op breekpunt is, en dit dan moeilik raak om te bid. Ek bid, maar dit voel asof die Here my nie hoor nie. Ek sien geen deurbrake nie. My woorde raak op, ek weet nie meer hoe om vir die Here te sê wat hier binne my hart leef nie. As ek nie eens die regte woorde kan vind nie, hoe sal God my gebed dan verhoor? Dit is alles gedagtes wat gelowiges by tye rakende gebed beleef.
Ons vers bring vir ons elkeen vandag ’n groot troos. Jy bid nie alleen nie! Jy hoef ook nie die regte woorde te vind dat God sal verstaan nie. God die Heilige Gees woon in ons. Hy staan ons by in alles wat ons doen. Hy bid saam met ons! God is die kenner van ons harte. Jesus het ons geleer dat ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra (Matteus 6:8). Die Here ken jou hart deur en deur, en Hy weet presies waarmee jy sukkel. Wanneer ’n mens dan in uitdagende tye kom, is dit baie belangrik om steeds die afspraak met die Here in jou binnekamer na te kom. Al sukkel ’n mens dalk om die regte woorde te vind, die Heilige Gees sal jou daarmee help. Dit wat in jou hart leef dra Hy op na die Vader se troon. Die Heilige Gees pleit vir ons by die Vader. Ons mag in moeilike tye maar net stil wees, en in ons binnekamer op die Here wag. Die Gees help ons om met hoop te bly volhard, totdat die Here antwoord.
Gebed
Here, U ken my hart, U ken my nood. Ek lê dit voor U troon neer. AMEN