Gedagte vir die dag | Vrydag 21 Oktober 2022

Psalm 51:3-4  Wees my genadig o God, in U troue liefde, wis my oortredings uit in u groot genade. Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde

Psalm 51 is die bekendste van die sogenaamde boetepsalms in die Psalmboek.  Dit word gekoppel aan Dawid se reaksie op die profeet Natan se veroordeling van sy owerspel met Batseba en die verraad teen haar man Urija wat tot sy dood gely het (2 Sam 11-12).

Die tema van hierdie Psalm vind ons in die eerste sin: “Wees my genadig, o God, in U troue liefde”.  Dit is ten diepste ’n smeekgebed om genade. Die digter pleit om die genade van die Here. Hy doen dit nie op grond van sy belydenis of sy verdienste nie, maar uitsluitlik op grond van die liefde van God.

Hy verdien dit nie, en hy kan niks doen om daarvoor te vergoed nie. Om genade van God te ontvang, kan slegs geskied deur die genade van God. God alleen kan Sy genade aan jou gee. Nie op grond van ons verdienste nie, nie op grond van wie ons is, of wat ons gedoen het nie en ook nie op grond van ons nie, maar slegs op grond van God self. Hy alleen kan Sy genade gee.

Die vraag kom dan: wat is sonde? Sonde is ten diepste om nie te luister na die Here nie. Sonde is dan om God uit jou lewe te ban en self die plek van God te wil inneem. Alles wat ons dus nie in verbondenheid aan God en tot eer van God doen nie, is sonde. Sonde hoef dus nie net lelike dade te wees nie. Dis alles wat nie in verbondenheid met God, saam met die Here gedoen word nie.

Deur die sonde word die band met God verbreek. Daarom beroof die sonde ons van die diepste wese van menswees, want om mens te wees beteken mos om aan God verbonde te wees. Om sy skaduwee te wees. Sonde maak ons dood, dit breek die band met God en beroof ons van die sin en die doel van ons bestaan. Dit is wat Psalm 51 so duidelik uitspel. Die lewe sonder God het geen sin nie, en die sonde beroof ons van die sin en doel van ons lewe. Dit bring net ongeluk en smart.

As ek hierdie Psalm lees, word ek opnuut bewus van my eie sondigheid. En dit gaan nie net oor spesifieke dinge wat ons verkeerd doen nie. Dit gaan oor ons diepste wese wat sondig is. Dankie tog ons weet dit hoef nie hier te eindig nie. Jesus het vir jou en my sonde aan die kruis gesterf en ons verlos. Vandag kan jy gaan leef as ’n vrygemaakte mens. Jy is vergewe en jy is verlos.

GEBED

O Heer vergewe my, o Heer kom maak my vry van ’n sondelas deur my skoon te was. Ek wil nou vlekloos voor U staan.

Amen