Spreuke 4:23-27: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie. Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.”
Ek het die groot voorreg gehad om enkele jare gelede die matriekafskeidsdiens van een van my seuns in Stellenbosch se moedergemeente waar te neem. Dit was aangrypend om te beleef hoe meer as 200 matriekleerlinge die kerk aan die einde van hulle skoolloopbane binnegekom het! Hulle het in ’n sirkel rondom die indrukwekkende kansel van die moederkerk gestaan, bymekaar ingehaak en baie opgewonde oor ’n nuwe seisoen in hulle lewens.
Ek onthou ook dat ek op daardie somersmiddag hierdie teks vir die spesiale diens gebruik het. Dit het weereens oor ’n voorneme, ’n voorstel en aanmoediging vir die pad vorentoe, gegaan. En wat die wysheidsleraar van Spreuke eeue gelede al vir ’n jongmens gesê het oor hoe sy/haar pad moet en kan lyk, het ook gegeld vir die jong manne voor my se harte. Hulle moet dit hulle voorneme maak om hulle harte op te pas, en dit soos goud te bewaar. Die rede hiervoor is die feit dat wat in jou hart omgaan, jou hele lewe vorentoe bepaal. Jou hart, het ons reeds gehoor, is die sleutel van denke en emosie, daarom moet hulle en ons versigtig wees met wat in ons hart omgaan.
Dit is soos om die hardeskyf van my lewe te laai! Ek moet seker wees ek laai dit met positiewe, konstruktiewe goeie inhoud, want hoor ons, dit is bepalend vir ons hele lewe. As dít my voorneme en besluit vir ’n volgende jaar is, dan het dit bepalende implikasies. Dit help my dan, soos die volgende verse sê: “Om my te weerhou van leuens en om nie mense om die bos te lei nie, maar om te alle tye met integriteit te wandel. Dit help my om vorentoe te kyk, reg voor my uit in optimisme, hoop en verwagting. Dit help my om my lewenskoers af te baken, om seker te wees van elke tree. Dit bepaal my lewe en help my om nie links, of regs weg te draai van die waarheid nie, en om my te weerhou van die verkeerde koers.
As dit vir die matrieks daardie dag gegeld het, dan geld dit ook vir elkeen van ons waar ons tans ook in ons land funksioneer. Kom ons maak dit ons voorneme en opregte besluit om ’n versigtige besluit te maak oor wat in my hart aangaan, hoe ek dink, hoe ek my met positiwiteit laai en my daarvan weerhou om in ’n spiraal van pessimisme te verval.
Gebed:
Here, ek wil myself voorneem om met u krag my hart te bewaar en versigtig daarmee om te gaan. Help my om dit te doen omdat ek weet dat só ’n hart, waarvan U die middelpunt is, my hele lewe bepaal. Amen.