Psalm 23 Die Here is my Herder. Ek kom niks kort nie
Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.
In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 meld hy wat die gevolg van die Here se sorg is.
Psalm 23 is ’n geloofsverklaring en ’n geloofsbelydenis. Juis daarom is die eerste sin van die psalm sekerlik die belangrikste: Die Here is my Herder. Hier verklaar Dawid aan die hand van ’n praktiese voorbeeld sy geloof in die Here wat daagliks vir hom sorg. Hy bely dat hy in ’n verhouding tot die Here, sy herder staan en eers dan vertel hy hoe hierdie verhouding lyk en wat sy herder, die Here, vir hom doen en hoe Hy vir hom sorg.
Die herder roep sy skape op hul name (hy ken hulle elkeen) en lei hulle uit. Die skape ken sy stem en volg hom. Hy lê sy lewe af vir sy skape. Dit is die rol van ’n herder – hy het sy skape lief, ken hulle en hulle ken hom (verhouding), lei hulle deur goeie en slegte tye, hy beskerm hulle in gevaar. En dit alles word in die eerste sin van die psalm veronderstel. Ek hoop jy ervaar ook die Here as jou Herder. Weet jy vandag dat Hy jou persoonlike versorger is?
GEBED
Here, U is vir my alles! By U het ek behoefte aan niks anders nie, naby U kom ek ook absoluut niks kort nie. Dankie dat U, my Herder is.
Amen