Reinig jou hande
Om handreiniger te gebruik het vir ons ’n tweede natuur geraak. By elke winkel, gebou, of byeenkoms moet ons nou ons hande reinig voor ons ingaan. Covid-19 het ons bewus gemaak van hoe maklik ons kan siek raak as ons nie onsself skoon hou nie. Ek hoor baie hoe mense sê: “Ag, ek doen dit maar om ander mense om my gerus te stel.” Voor sy dood het Rabbi Jonathan Sacks gesê dat die uitdagings van die pandemie die volgende effek op die samelewing het:
- Dit kan ons in doppe plaas – ons raak meer selfsugtig en doen goed net vir onsself.
- Dit kan ons laat voorgee – ons doen goed om ander gerus te stel.
Sacks het gesê dat ons die middeweg tussen die twee pole moet ontdek om werklik herstel in hierdie tyd te bring. Dit het my laat dink aan iets wat Jesus vir die geestelike leiers by wie Hy gaan eet het, gesê het:
Lukas 11:37. Net toe Jesus klaar gepraat het, het ‘n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 38Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. 39Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. 40Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie?
Jesus is juis besig om aan hierdie leiers te verduidelik dat ons nie net sisteme moet bou wat onsself bevoordeel nie, en dat ons nie net moet voorgee ter wille van die mense wat van buite af na ons kyk nie. Ware lewe lê in die balans tussen om nie net vir jouself te sorg nie, maar ook vir ander. Ons moet versigtig wees om nie die borde te blink was nie en dat ons ook nie te veel in die bord hou en nie oor wat op die tafel gebeur, omgee nie.
Gebed
Here, ons dank U dat U ons in hierdie tyd uitdaag om vir onsself en ander te sorg, maar ook Here dat U ons uitdaag met ’n lewe waar ons nie vasgevang is binne onsself nie. Dat U ons ook wegtrek van ’n lewe waar ons voorgee ter wille van ander se opinies.
Amen.
Mag jy beleef hoe jy nuwe lewe ontdek in die wêreld tussen jouself en ander in hierdie tyd.