Dit is belangrik om ons denke te ondersoek, want dit is duidelik dat ons denke ’n groot invloed op ons leefwêreld het. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies nadink oor hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe. Luister saam met ons en dink nuut oor jou lewe . . .
George Bernard Shaw, die Ierse toneelskrywer het gesê: “Vooruitgang is onmoontlik sonder verandering, en die wat nie hulle denke kan verander nie, kan niks verander nie.” Die groot vraag is: Hoe begin ’n mens om jou denke te verander? Kan dit net so maklik wees soos as om die teenoorgestelde denke te hê as wat jy verlede jaar gehad het – miskien is dit?
Ek is self ’n baie negatiewe mens en my vrou is weer die teenoorgestelde. ’n Mens kan kies hoe jy die wêreld sien. Ek sien die glas half leeg en my vrou sien dit weer half vol en dit het verseker ’n impak op hoe ons wêrelde lyk.
Kenners sê dat om anders te dink begin by die gewoonte om jou fokuspunt te verander. Om beheer oor jou gedagtes te neem, beteken soms dat jy beheer oor jou lewe moet prysgee.
Jesus laat ons verstaan waarop ons ons verstand en denke moet rig:
Matt:22:37 “ Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.” Jesus maak ons bewus dat ons , ons verstand moet rig op God.
Paulus skryf in Filipense 4:8 hoe die fokuspunt van ons denke ons kan verander: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig”
Rig jou gedagtes anders, skep ’n ander fokuspunt en so sal jy die wêreld om jou anders beleef.
Waarop gaan jy fokus vir die nuwe jaar? Waar gaan jou fokuspunt wees om jou realiteit te verander?
Gebed:
Here, dankie dat U vir ons ’n ankerpunt skep sodat ons gedagtes lewe kan gee. Here ons bid dat ons, ons fokus sal verander sodat ons u liefde, genade en vrede kan beleef.
Amen