1 Korintiërs 13:13. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!
1 Korintiërs 13 moet eintlik verstaan word uit die hoek van 1 Korintiërs 12 en veral die laaste vers waar verwys word na die gawes van die Gees. Gawes van geloof, woorde van kennis, genesing, wonderwerke, om in tale te praat, profesieë, die verkondiging van God se boodskap, die onderskeiding van geeste, hulpverlening, ens. . . dan aan die einde van die hoofstuk staan daar: “Lê julle toe op die beste genadegawes”! Wat is dit? Van al die gawes, is die beste waarop jy jou moet toelê – die liefde.
”Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is …” LIEFDE (1 Kor. 13:1). Van al die gawes, waarvan sommige groot bonatuurlike wonders is, wys ek julle wat die beste is! Want dit is die liefde waarom alles draai! Waarom sê Paulus die liefde is die grootste? Waarom nie die geloof en hoop nie? Die antwoord lê in die tipe liefde waarna Paulus verwys: die onvoorwaardelike liefde soos die liefde wat God aan ons openbaar het deur sy Seun aan die kruis te laat sterf wat ons oorwinning van die ewige dood geskenk het. God neem hierdie liefde verder deur sy Heilige Gees te stuur om by jou te wees van nou af tot in ewigheid, sonder om dit te betwyfel. Dit is hierdie liefde wat ek en jy ook moet uitleef.
Hoe lyk hierdie liefde? Dit is nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie en verbly hom nie oor die onreg nie. Kan ons dit saamvat in een woord? Ware liefde is onvoorwaardelik. 1 Korintiërs 13 sê, dis is geduldig, vriendelik en verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. Die liefde vergaan nooit, want dis ook al wat in die hemel sal oorbly.
Nee, ware liefde is nie pronkerig nie. Dis nie flambojant of uitspattig nie. Dis nie bloot ’n emosie nie en dit kan nie sommer op Instagram vasgevang word, of op Facebook verwoord word nie. Ware liefde is die klein, bedagsame dingetjies wat deurlopend en oor ’n lang tyd aan ’n ander mens gedoen word. “Ware liefde,” sê die Deense filosoof, Søren Kierkegaard, “is liefdes-werke.”
GEBED
“God is Liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen:
Dat Hy ons sy Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef – nou kan ons, uit God gebore, uit dié bron van liefde leef!
AMEN