2 Korintiërs 4:8-9. 8In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
GEDAGTE
In die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is‚ was kleipotte baie belangrik. Mense het dit gebruik om hulle kos soos‚ meel‚ droë boontjies en water in te stoor. Die kleipot was ’n baie belangrike deel van die huishouding. Dikwels in die antieke tye is skatte ook in kleipotte geberg. Hierdie kleipotte is met groot sorg vervaardig. Op die buitekant is patrone geverf. Die potte is ook in oonde gebak sodat dit lank moes hou en mooi moes lyk. Die potte het egter een nadeel gehad: hulle het maklik gebreek en daar het maar min heel kleipotte uit daardie tyd heel gebly – ’n getuienis van hoe broos en breekbaar die potte was.
Paulus gebruik hierdie beeld om die boodskap te verkondig en om hom as persoon te verdedig teen die aantygings van die valse apostels. In die stad Korinte was daar mense wat Paulus se amp bevraagteken het. Hulle het gereeld vir Paulus aan sy swakhede herinner. Volgens hulle was hy nie juis ’n voorbeeld van ’n suksesvolle verkondiger van die evangelie nie en was hulle van mening dat hulle, eerder as hy, God se bediening in Korinte verteenwoordig het. Paulus wil hulle antwoord op hierdie aantygings en dan sê hy in 2 Kor.4:7 dat ons as mense maar soos kleipotte is. Kleipotte wat maklik breek, maar met ’n kosbare inhoud.
Wat is hierdie skat? Elkeen wat in Jesus Christus glo, is ’n draer en bedienaar van die evangelie en het dus hierdie uiters kosbare skat in hom/haar. Dit word uitgespel in vers 6: Dit is die boodskap van Jesus Christus en die verlossing wat daaruit volg. Die kennis van die heerlikheid van God soos dit bekend geword het deur Jesus Christus is ’n baie kosbare skat en oneindig waardevol. Onvergelykbaar kosbaar! Paulus het besef dat hy ’n breekbare kleipot is, maar dat hy hierdie kosbare boodskap van God se genade vir die mensdom in hom rond dra.
Jy is ook ’n draer van hierdie kosbare skat. Jy mag dalk vandag ook voel soos ’n nuttelose, breekbare kleipot, maar weet dat jou inhoud baie kosbaar is – daarom is jy waardevol.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat ek ’n draer kan wees van hierdie kosbare skat.
Amen