Gedagte vir die dag | Donderdag 19 Mei 2022

Numeri 13:27 & 28:  “27Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. 28Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien.”

Gister het ons gesien hoedat Moses ’n aantal leiers kies en hulle stuur om die beloofde land, Kanaan, te gaan verken. Hulle het deur verskillende woestyne getrek, in die land aangekom, waargeneem wat daar aangaan en uiteindelik teruggekeer om aan Moses en Aäron verslag te kom doen.

Aanvanklik het almal waarskynlik hande geklap toe hulle verslag doen van die land. “Dit is baie mooi.  Die land loop oor van melk en heuning, dis ’n paradys.” Daar is so baie goed, soos onder andere hierdie vrugte wat ons vir julle saamgebring het. Maar dit is ook net daar, sommer vroeg in die verslaggewing, wat die pessimisme, angs en onsekerheid die gesprek oorneem. Al hierdie positiewe dinge waaroor hulle rapporteer, word summier van die tafel afgevee, en opgevolg met ’n baie betekenisvolle “MAAR!” Dit is alles goed en wel, MAAR daar is ook groot reuse, groot en sterk mense en sterk stede.

Dit het my baie laat dink aan die baie bekende vergelyking met die half leë glas. Die glas wat half vol is met water, met die vraag: ”Wat sien jy raak? ’n Halwe leë glas, of ’n halwe vol glas?” Dit is presies wat hier gebeur, al die mooi, positiwiteit word summier afgemaak met ’n pessimistiese “MAAR”.

Is dit nie ook waar in ons eie lewens nie? Daar is so baie mooi en positiewe dinge wat ons raaksien wanneer ons ons eie land gaan verken . . . sy mense, die natuurskoon, die weer, en so baie ander positiewe elemente. Ons kyk ongelukkig baie vinnig verby dit, en kom vinnig by die “MAARS” wat ons gesprekke en gedagtes oorheers. Die negatiewe, die slegte, die dinge wat onseker is, en dit begin ons hele perspektief oorheers. Het jy ook “MAARS” in jou lewe? Ja daar is mooi goed wat jy waarneem, maar die “MAAR” oorheers jou lewe en jou visie. Maak die mooi plek vir swartgalligheid, pessimisme, omdat jy jou deur “MAARS” laat oorheers.

Gebed: Here, dankie vir die mooi dinge wat U oor ons lewe bring, ook in ons land. Help ons asbs om ons brille skoon te maak, om die mooi en positiewe dinge te sien, en nie vas te haak  by ons MAARS nie. Amen.