Gedagte vir die dag | Donderdag 19 Augustus 2021

Iemand het onlangs hierdie wysheid neer geskryf:  “This moment that humanity is living through can be considered a door or a hole. The decision to fall into the hole or go through the door is yours”.

Dis vir baie van ons moeilik om nie deur al die uitdagings en verliese, wat ons tans beleef, oorweldig te word nie.  Miskien kan hierdie wysheid ons help om hierdeur te navigeer.  Want wanneer ons kies om 24 uur per dag konstant negatiewe informasie te absorbeer, wat ons heeltyd angstig en pessimisties maak, dis dan wanneer ons in hierdie gat sal val.  Indien ons eerder hierdie tyd gebruik om weer opnuut na onsself te kyk, oor die lewe en die dood na te dink, en na ons self en ander om te sien, raak hierdie tydperk in ons geskiedenis ’n deur waardeur ons kan stap.

Ek dink ons moet onsself gereeld hieraan herinner.  Want as ons kies om deur die deur te stap, kies ons om ons vrees en ons angstigheid en ongemak in die oë te kyk.  Ek dink dit is dan wanneer ons anders na die wêreld om ons begin kyk.

Die eerste gelowiges het geglo dit is klein geloofsgewoontes wat ons hiermee kan help.  Sien om na jouself en die mense om jou.  Wees sagter met almal rondom jou want vir almal van ons, is hierdie nou ’n vreemde en nuwe omgewing.  Neem tyd om daagliks vir ’n paar minute net te sit en diep asem te haal.  Net dit, totdat jou lyf begin ontspan.  Bel mense, stuur boodskappe en vra hoe dit gaan.  Ons almal is uitgehonger vir kontak met ander, dalk omdat ons almal so ontsaglik gedaan is.  Maak ’n punt daarvan om meer bewustelik deur jou dag te gaan en so die Heilige rondom ons te ervaar.

Skeppergod

Maak my wakker sodat ek kan opstaan om U te ontmoet soos wat elke gewone dag ook opstaan om die sonsopkoms tegemoet te kom.

Amen