Gedagte vir die dag | Donderdag 18 Mei 2023

Lukas 24:51. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

GEDAGTE

Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy Homself lewend aan die vroue naby die graf vertoon asook aan sy dissipels en aan meer as 500 ander mense. In die daaropvolgende dae na sy opstanding het Hy sy dissipels aangaande die koninkryk van God geleer.

Veertig dae na die opstanding het Jesus en sy dissipels na die Olyfberg, naby Jerusalem, gegaan. Daar het Jesus sy volgelinge beloof dat hulle spoedig die Heilige Gees sou ontvang en Hy het hulle aangesê om in Jerusalem te bly totdat die Gees gekom het. Toe het Jesus hulle geseën en nadat Hy die seën uitgespreek het, het Hy begin om na die hemel op te vaar.

Die hemelvaart van Jesus Christus is betekenisvol, as gevolg van verskeie redes:

  • Dit was ‘n teken van die einde van sy aardse bediening. God die Vader het in Sy groot liefde Sy Seun na die wêreld,  gestuur en nou het die Seun teruggekeer na Sy Vader.
  • Dit was ‘n teken dat Sy aardse werk suksesvol afgehandel was. Alles wat Hy kom doen het, het Hy bereik.
  • Dit dui op die terugkeer van sy hemelse heerlikheid. Jesus se heerlikheid was verberg gedurende sy aardse verblyf.
  • Dit het Hom toegelaat om vir ons ‘n plek te gaan voorberei.
  • Dit het aangedui dat Hy ‘n nuwe werk as Hoë Priester begin en Middelaar van die Nuwe Verbond.
  • Dit vestig ‘n patroon vir sy wederkoms. Soos Jesus gekom het om die Koninkryk te vestig, só sal Hy weer kom, net soos Hy weg gegaan het – letterlik, liggaamlik en sigbaar in die wolke.

GEBED

Hemelse God en Vader, dankie dat ek kan weet Jesus het opgevaar en tree nou vir my by U in.

AMEN