Joshua 24:15: “Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”
Ons het gister met mekaar begin deel oor die belang en omvang van keuses in ons lewens. Om tussen verskeie moontlikhede te onderskei ten einde die regte keuse te maak.
Ons teksvers vandag (Joshua 24:15) is een van die mees bekende en mees pertinente verse oor keuses wat gemaak word! Dit is Joshua, die opvolger van Moses, wat hier teen die einde van sy lewe die grootste keuse ooit in sy lewe weer bevestig. Soos Moses, het hy ook maar met ’n weerbarstige volk gesukkel.
Dit was ook een van sy grootste uitdagings! Hy moes die volk wat hy lei, voortdurend aanmoedig om deurentyd die regte geloofskeuse te maak, want hulle het dikwels die verkeerde keuses gemaak oor wie hulle wil aanbid. Baie keer het hulle die gode van Egipte, of van die Amoriete gekies. Daar staan selfs in ons teksvers, dat dit vir sommige van hulle verkeerd was om die Here te dien! Hulle het Hom heeltemal gelos en van Hom weg beweeg. Dan, in desperaatheid, roep Joshua wat al ’n lang pad met die volk gestap het uit: “Nou moet julle kies: kies vandag wie julle wil volg! Dit is julle vrye keuse. Julle kan vandag teen God besluit, of vir Hom kies! Maar weet net verseker, ek het al lankal gekies en klaar gekies en bly by my keuse. Ek en my huis sal die Here dien!”
’n Aangrypende bevestiging van sy geloof. Hy en sy huismense sal nie onheilige kompromieë aangaan met alternatiewe geloofsmoontlikhede nie! Hulle sal ook nie uit God se spasie beweeg en Hom in ongeloof los nie. Hulle sal aanhou glo! Hulle kies om aan te hou om Hom te dien!
Vriende, so baie mense in ons tyd los die geloof en wil uit God se spasie weg vlug en sogenaamd “bevry” word. Selfs vooraanstaande teoloë loop hierdie pad.
In die onsekere, wankelende tyd waarin ons lewe, moet ons elkeen weer kies. Wat, of wie kies jy?
Gebed
Here help ons om soos Joshua met oortuiging te bevestig – ons kies die lewende Here.
Amen.