Luk 2:14. “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het”
Ons almal herken hierdie bekende woorde. Ons sing die teks elke jaar met Kersfees. Dit vertel van die goeie nuus wat engele aan die skaapwagters gebring het: Dat God vir die wêreld lig en mens kom word het. Dit is in eenvoud waaroor die goeie nuus van die Evangelie eintlik gaan. Of eerder wat dit in ons wil kom doen. God se verskyning kom maak nie net ‘n gedagte in ons los nie. Op ‘n geheimsinninge wyse bring God se verskyning ons by ‘n plek van verwondering uit. Dit is vir my opmerklik hoe ons as gelowiges dikwels op soek raak na God en ons verwondering skielik verdwyn. Dan probeer ons die Lig weer aanskakel deur kursusse wat handel oor stappe wat jy kan volg om naby aan God te kom.
Mag jy in vandag se teks die verwondering beleef van die goeie nuus dat God skyn – ook in tye waar ons anders voel en nie die lig sien nie. “Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde” is nie net ‘n Kerslied nie. Dit is die lied waarmee ons elke dag van die jaar ingaan. Laat toe dat die koue van die wintersoggend, die mooi van die dag, die gesigte van mense om jou en die donker van vanaand jou verwonder.
Gebed
Here, u goedheid is groter as die grootste boosheid, u liefde sterker as al die haat in ons land, u lig skyn helderder as die donker in ons harte. Here, help ons om te besef dat u lig die dood en vrees in ons kom oorwin. Daarom is ons vandag meer as oorwinnaars deur U wat ons lief het. Dankie dat ek eenvoudig in hierdie verwondering kan leef.
AMEN