Gedagte vir die dag | Donderdag 17 Junie 2021

Ek lees dieselfde gedeelte as gister, dink aan die Here terwyl jy jonk is, lees dit gerus. Prediker 12:1-8: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: ‘Ek het daar niks aan nie.’ Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën. Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk, wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word, die tyd wanneer ‘n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie.

Dit is die tyd wanneer hy bang is vir ‘n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan, die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het. Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.”

Gedagte:

Die vers gaan eintlik oor alles wat slegter word wanneer jy ouer word.  Iemand het onlangs die opmerking gemaak: “Wanneer jy gebore word, is jy eintlik besig om stadig te sterf.”  Dit is nie ’n positiewe siening oor die lewe nie.

Ek het in die laaste jaar, baie nagedink oor mense naby aan my wat hulle geloof in God verloor het.  Dikwels is daar onderliggende redes daarvoor.

Een van die redes hiervoor is dikwels dat hulle teleurgesteld is in God – dat daar ’n bepaalde verwagting was.  ’n Mens kan eintlik ’n hele preek maak oor Godsbeelde wat mense het. En ook oor wat mense verwag Hy moet doen, en as dit dan nie so uitwerk nie, is mense teleurgesteld, deur hierdie Skepper wat hulle in hul jong dae leer ken het.

Verder dink ek ook dat mense deur ander mede-gelowiges in die kerk teleurgestel word.  Hulle kyk na ons en dink as dit is hoe Christene optree kan ek myself nie daarmee identifiseer nie.  Die bekende aanhaling van Richard Voster, sluit hierby aan: “The problem with God’s flock, is that the biggest rules come from other sheep, and not the wolwes.”

Derdens is daar die blote feit dat mense in die lewe teleurgesteld is. Die lewe het aan hulle die verkeerde kaarte uitgedeel.  Miskien sluit dit by die teleurstelling in die kerk, en die debatte van wat binne die kerk gevoer word, aan.  Die hele debat oor selfdegeslagverhoudings het tot gevolg gehad dat sommige mense hulle nie meer met die kerk en dit wat God is wou vereenselwig nie.  Daar is waarskynlik nog baie ander redes.

Ek het net weer opnuut besef watter groot gawe dit is om net te kan glo, ten spyte van al die dinge waarin ’n mens teleurgesteld is. Dit  is ’n wonderlike genadegawe om net te kan glo.  Daarom sê ek vir elke dag vir die Here dankie om net te kan glo. Ek is saam met jou dankbaar dat jy, ten spyte van ’n klomp negatiewe goed, ook kan glo.

Gebed

Here dankie vir die wonder van geloof, as ‘n gawe.