Gedagte vir die dag | Donderdag 17 Februarie 2022

Genesis 45:4-5.  “Kom nader na my toe,” sê hy. Hulle kom toe nader. Hy sê toe weer: “Ek is Josef, julle broer wat julle destyds verkoop het en na Egipte toe gebring is. 5Maar moenie julleself verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word.

Josef se jaloerse broers verkoop hom aan ’n groep slawehandelaars omdat hulle pa hom voorgetrek het. In Egipte word hy die slaaf van Potifar.  Wanneer hy nie by Potifar se vrou wil slaap nie, beskuldig sy hom vals en die uiteinde is dat Potifar hom in die tronk gooi, waar hy vir jare moet bly.

Eers wanneer die Farao soek na iemand wat sy vreemde droom kan uitlê, onthou die Farao se skinker dat Josef sy droom in die tronk uitgelê het. Josef word uit die tronk gaan haal om die Farao se droom uit te lê. Josef verduidelik dat die Farao se droom beteken dat daar sewe jare van oorvloed kos en sewe jare van hongersnood vir die volk voorlê. Hy stel voor dat daar tydens die jare van oorvloed,  kos gestoor word vir die hongersnood wat voorlê.  Die Farao is so beïndruk met Josef dat hy hom aanstel om die land te berstuur.

Tydens die jare van hongersnood moes Josef se broers ook koring in Egipte gaan koop. Josef erken hulle dadelik, maar in plaas daarvan dat hy hulle straf vir dit wat hulle aan hom gedoen het, getuig hy dat God hulle gebruik het om lewens te red. Alhoewel Josef baie swaar gekry het, was God die hele tyd by hom.

Ons kan self daarvan getuig dat die lewe vir ons uitdagings bied en soms baie moeilik wees. Maar weet dat God ’n plan het en dat Hy jou nooit in jou storms alleen sal los nie.

GEBED

Here, leer my net weer dat ten spyte van al my eie negatiewe omstandighede U ook vir my positiewe dinge beplan.

Amen

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)