Jeremia 23:23-24. Ek is nie net ‘n God wat naby is nie, sê die Here. Ek is ‘n God wat ook ver weg is. Niemand kan in ‘n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op aarde, sê die Here.
In hierdie gedeelte rig Jeremia sy boodskap aan die profete, priesters en koning. God wou mense in leierskap posisies goed laat verstaan dat Hy nie net met hulle belange bemoei is nie, maar dat Hy ook elders, ver verwyder van hulle realiteit, maar met dieselfde sorg met ander mense besig is.
Ons bely gereeld in die kerk: “Ek glo in God, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde”. Dit gebeur so maklik dat ons binne die grense van ons eie taal, kultuur, wêreldbeeld en verwagtinge perspektief verloor en God tot baie klein ruimtes beperk. Hoe raak en verander vandag se teks die wêreld waarin jy jouself bevind? Met watter perspektief kyk jy na gebeure op internasionale front? Hoe troos en inspireer hierdie perspektief jou? Mag pessimisme, vrees en onsekerheid nie in hierdie dag jou lewe oorheers nie. Mag jy te midde van onseker wêreldgebeure steeds van hierdie dag iets betekenisvol maak.