Gedagte vir die dag | Donderdag 16 Junie 2022

Spreuke 17:14. Om rusie te begin, is om ’n damwal te breek; staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.

Vandag se teks tref ‘n mens diep en ons het nie nodig om dit uit te lê of te verduidelik nie. Dit mag voel of ons in konfliksituasies die argument of geveg gewen het, maar daar is altyd nagevolge wat ons nie voorsien nie. En die skade wat aangerig is, is altyd soos ’n vloed wat ons en ander meesleur. Konflik en rusie het altyd hierdie nagevolge. Niemand wen nie. Die antwoord is nie so eenvoudig as dat ’n mens net alle konflik moet vermy nie. Verskuil in rusie lê ’n magdom ander destruktiewe emosies wat in ons bly voortleef. Dink aan die konflik tussen jou en ander mense. Wat lê agter die woorde en argumente verskuil? Watter wysheid bring die Here vandag by jou hieroor?

Gebed

Here, U aanvaar die dinge in ons wat ons nie eers aan onsself kan erken nie. U gee dié dinge ’n naam wanneer ons nie die moed het om daaroor te praat nie. U hou in u geheue die dinge wat ons probeer vergeet. Here help ons om hierdie realiteite, wat groot skade kan aanrig, raak te sien en bied ons die insig om dit anders te hanteer.

Amen