Gedagte vir die dag | Donderdag 16 Desember 2021

In hierdie reeks dagstukkies fokus ons op Kersfees en hoe Jesus Christus die Kersboom kom omkeer sodat die ster wat gewoonlik op die bokant van die boom is, nou aan die voet sit. Jesus Christus het vir ons kom wys dat God ons met ons menslikheid kom konfronteer het.

Ek het onlangs weer ’n welvaart prediker gehoor wat vir sy gemeente gesê het dat God vir ons wil ryk maak, gesond maak en die beste weergawe van onsself wil maak. Ek dink baie aan hierdie woorde as ek in Kerstyd deur die winkels loop. Ons sien produkte wat skree: Jy kan beter wees, jy kan meer geld maak en jy kan heel wees of voel. Ek dink dit is eintlik ’n nogal ironies wanneer ons nadink waaroor Kersfees waarlik gaan. Die verlosser wat in gebroke toestande en in totale menslikheid na ons toe gekom het, nie om heelheid aan ons te verkoop nie, maar om vir ons te wys wat menswees beteken.

Kom ons lees saam: Matteus 1:18-21

18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

Binne die antieke kultuur was hierdie nie ’n koninklike geboorte nie, dink net aan die skande wat aan Maria moes kleef omdat sy ’n buite-egtelike-kind in die wêreld ingebring het. Dink aan Josef wat verloof is aan Maria om te trou en dan word sy deur ’n wonderwerk swanger. Hoe verduidelik ’n mens dit?

God kies om in hierdie gebroke en skandelike manier na ons toe te kom, om gebore te word as ’n buiteeegtelike wonderwerk. Hierdie Kersfees kan ons nadink aan dié buite-egtelike wonderwerk as ons in kontak kom met dié op straat, die wat honger ly, wat siek is, wat stukkend is. Jesus is in daardie skandelike situasie gebore, nie in welvaart nie.

Mag Kersfees vir jou kom rus gee in jou eie skandes en seer, juis omdat die verlosser van die wêreld uit daardie situasie na ons toe kom.

Gebed:

Here ons dank U vir U genade en liefde. Ons sê dankie dat U, U seun vir ons gestuur het in die skandelike situasies van die lewe, sodat ons ook eerlik kan wees oor ons eie skandes en tekortkominge in hierdie tyd. Amen.