Gedagte vir die dag | Donderdag 15 Oktober 2020

Lukas 11:9-10. “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

Waarmee worstel jy op die oomblik? Dalk ’n belangrike besluit oor jou toekoms? Of ’n konflik situasie binne jou familie? Het ’n deur dalk voor jou toegegaan, of het ’n ander deur dalk vir jou oopgegaan? Laat ons eerlik wees – beide oop en toe deure is uitdagings! Dalk worstel jy met jou finansies, of dalk bied jou, of iemand in jou familie se gesondheid bepaalde uitdagings. Hoe hanteer jy jou worsteling? Wat maak jy daarmee? Vandag se teksgedeelte is ’n persoonlike uitnodiging van Jesus waarin Hy ons nooi om met ons probleme en uitdagings na Hom te gaan.

God is ons Vader wat belowe het om ons te versorg en te help. Hy’s nie een wat rus en slaap en dan nie gepla wil word nie. Hy sluimer nooit in nie en slaap nooit nie. Hy nooi ons uit om Hom enige tyd – dag en nag, aan te roep. Hy ly nie, soos ons, aan geïrriteerdheid wanneer mense Hom lastig val en ontydig pla nie. Hy’t nie allerhande voorskrifte rakende hoeveel Hy bereid is om in ’n vriendskap in te sit nie. Hy’t volmaak lief en daar is geen einde aan sy liefde vir jou en my nie.

Die Here wil hê dat ons met die grootste vrymoedigheid moet bid omdat ons Hom vertrou. Wie by hierdie Vader vir hulp aanklop, ontvang nie net sy/haar daaglikse brood nie, maar sommer baie meer:

– die Heilige Gees kom na ons toe;

– God self gaan saam met mense wat by Hom aanklop!

GEBED

Here,

Met my stukkie lof

Met my bietjie bid

Met my sinne van stof

Wil ek voor U kom sit

Met vandag se leef

En môre se dood

Met my reguit en skeef

Met my honger en brood

So sal ek kom

As ek kom om te juig

Dankbaar en dom

Sal ek nederig kom buig. AMEN