Gedagte vir die dag | Donderdag 15 Junie 2023

Vandag is Donderdag 15 Junie en ons dink die week ’n bietjie na oor die kerklike seisoen van Koninkrykstyd waarbinne ons onsself bevind. Met die wegspring van hierdie tydperk besin ons oor die Triniteit en ons deelname saam met God.  Daaom lees ons elke oggend die aanhaling van Richard Rohr vanuit sy boek “The Devine Dance” te luister:

“The Holy Trinity is what flows under, around, and through all things – Father, Son, and Holy Spirit divinely dancing. The Holy Trinity is what we enter into as God’s beloved creation; our participation in the flow and divine dance enables us to be generous, serve others, and experience connection, harmony, and love.”

Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:

  • Hoe raak ons deel van hierdie vloei saam met die Triniteit?
  • Hoe neem ons deel?

Kom ons luister na een van Neels Jackson se gedigte oor vrede wat ons hiermee kan help:

Vrede

Dit begin met die geklink van swaarde wat weggepak word,

die byna geluidlose girts van pen op papier

as ’n verdrag onderteken word,

die geruis op die gruis van die stewels van ’n duisend soldate

wat huis toe gaan.

Maar dan is daar nog nie vrede nie.

Eers is sagte salf en verbande nodig

vir pynlike wonde op arms en bene, buik en borskas

dié wat die gesigte vir altyd skend.

Maar ook vir die wonde van die gees.

Elke roof wat verdroog, afdop en ’n nuwe sagtheid ontbloot

om die nuwe, sagte vel te ontbloot,

bring die vrede nader.

Dan moet die herkenning kom:

om in die gehate en vervloekte ’n mens raak te sien,

iemand wat hartseer en bly kan wees,

wat kan liefhê en treur en hoop en huil.

’n Mens na die beeld van God.

As dít gebeur, word die ondenkbare moontlik:

die uitsteek van ’n hand,

’n huiwerige voet wat dit waag oor ’n grens.

wat vroeër ondenkbaar was.

Vervreemdes wat vir mekaar begin omgee, sorg,

mekaar help om mooi te word en vrolik, en gelukkig, en heel.

Terwyl hulle sing:

Laat, Heer, u vrede deur my vloei …