Vandag staan ons stil by die tema van gebed as klaaglied. Die bekendste hiervan is sekerlik die boek wat die naam Klaagliedere dra, maar ons vind ook ander voorbeelde, soos in Psalm 22
Psalm 22:2-3
My God, my God, waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep bedags en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
Refleksie
Gebede van klaagliedere is eerlike gebede, wat seer en onreg erken en eerlik vra oor God se teenwoordigheid of afwesigheid in die situasie. ’n Klaaglied kom ook dikwels met ’n versoek dat dat die Here moet intree, maar is soms ook net ’n erkenning van die gebroke wêreld. Hierdie woorde in Psalm 22 is die bekende woorde wat Jesus self aan die kruis uitgeskree het.
Klaagliedere is gewoonlik gebede wat ons te skaam is om te bid, of te skaam is om te erken dat ons dit bid. Dit voel amper verkeerd – asof ons twyfel of nie genoeg geloof het as ons ’n klaaglied bid nie. Maar die menigte voorbeelde van klaagliedere in die Bybel nooi ons uit om ons eie klaagliedere voor God te bring. Om die onreg van die gebroke wêreld te erken en raak te sien dat daar dinge is wat moet verander. Maar ook om ons eie onstuimigheid na die Here toe te bring.
Ons bid nie noodwendig klaagliedere omdat ons wil hê dat die Here elke versoek moet bewaarheid nie, maar omdat ons ons onstuimige harte in God se hande wil plaas en vir die Here te sê: “Ek stort my Hele hart voor U uit, ek gee my onstuimige hart oor aan U en vertrou U daarmee.” Gebed is ’n veilige ruimte waar ons eerlik kan wees oor wat in ons harte leef en waar ons, deur dit aan die Here te erken, uiting kan gee aan die woede of pyn wat in ons harte leef. In die lewe sal daar tye van pyn en verwarring wees, en God verstaan ons lyding. Hy nooi ons uit om ons harte voor Hom uit te stort, om ons klagtes en versoekings met Hom te deel. Hy is ‘n God van medelye.
Vandag word ons uitgenooi om in gebed ’n klaaglied met die Here te deel. Deel al die dinge wat jou hart onstuimig maak, veral die onreg wat jy in die wêreld sien. Laat dit oor, in gebed, aan die Here.