Gedagte vir die dag | Donderdag 14 Oktober 2021

Johannes 14:27.“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Kan jy jou dit voorstel hoe dit moet wees om in ’n wêreld te leef waar daar geen bekommernisse, geen hartseer, geen vrese, geen aanvalle en geen onsekerheid is nie. Dit klink byna onmoontlik, want ons weet die meeste van ons bekommer ons oor een of ander aspek van die lewe. Hetsy werk, ouers, finansies, skoolwerk, ’n huweliksmaat, uitslae van ’n mediese toets, of die toekoms van ons land is. Ons lewe in ’n dolle gejaagde lewe waar daar nie plek is vir mense wat wil asem skep en ’n behoefte aan vrede het nie.

In die gedeelte wat ons gelees het, het Jesus se leringe met sy dissipels einde se kant toe gestaan. Natuurlik moes daar vrees en onsekerheid by die dissipels gewees het.  Hulle Leermeester en vriend gaan hulle verlaat. Jesus het besef dat die tyd nader kom vir sy lyding aan die kruis en dat Hy daarom nou die geleentheid moet gebruik om die dissipels van die toekoms te vertel. Hy het geweet dat hulle hartseer en verward sou wees oor die gebeure (sy kruisiging en die hemelvaart) wat sou plaasvind.

Jesus het nie veel gehad om vir sy dissipels agter te laat nie. Hy beloof hulle egter twee kosbare geskenke: die Voorspraak (vers 26) en sy vrede (vers 27). Hy gee die vrede wat Hy self besit.

God se vrede verryk die siel en is ’n innerlike vrede wat nooit van ons af weggeneem kan word nie.  Die vrede wat Christus nagelaat het, is baie meer werd as die vrede wat die wêreld aan ons bied. Jesus gee SY vrede. Ons lees in Joh 16:33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Die vrede wat Jesus gee is nie afhanklik van uiterlike wêreldse omstandighede nie. Dit is afhanklik van Jesus se kruis en die totale vertroue op God.

GEBED

Here gee my asseblief U kosbare vrede.

Amen