Gedagte vir die dag | Donderdag 14 Januarie 2021

Galasiërs 6:10: Daarom moet ons veral goed doen, veral aan mede Christene. Terwyl ons nog die kans het om dit te doen.

Die afgelope vakansie het ek ’n egpaar getrou wat al ’n bietjie ouer is as die gemiddelde bruidspaar. Toe ek vir hulle vra watter saak ek moet aanraak, was hulle antwoord: “Tyd. Dat ons op geleende tyd is, en hoe kosbaar tyd vir ons is”.

Ek het teen hierdie agtergrond gedink aan die St Dawid Katedraal in Wallis, een van die oudste katerdrale in Brittanje. Dit is blykbaar reeds teen die einde van die twaalfde eeu opgerig en is in ’n laagte gebou, as beskerming teen plunderaars wat dit sodoende nie van die see af kon sien. ’n Mens dink onwillekeurig aan mense wat reeds agt eeue in daardie gebou gebid het. Ons onthou dan Moses se woorde in Psalm 90: “Hoe vlieg ons dae, en skiet ons jare verby soos ’n gedagte. Ja dis gou verby, ons vlieg na ons einde toe.”

Veral wanneer ’n mens so aan die begin van die jaar staan, dan wil ’n mens op ’n besondere wyse sinvol en ekonomies met jou tyd omgaan. In die katerdraal is daar ’n hele paar spreuke wat aan almal raad gee. Ek dink dit strek oor twaalf eeue heen, oor hoe ’n mens die beste kan maak van jou stuk lewe wat oor is. Dit kan wees dat van ons wat vanoggend na die booskap luister, of dit lees nie die genade ontvang om die einde van die jaar te haal nie. Ek deel graag ’n paar van die spreuke wat in die katedraal aangeteken staan.

  • Maak tyd om te dink, dis die bron van krag.
  • Maak tyd om te speel, dis die geheim van blywende jeug.
  • Maak tyd om te lees, dis die fontein van wysheid.
  • Maak tyd om te bid, dit is die grootste krag op aarde.
  • Maak tyd om lief te hê, en om liefde te ontvang, dis ’n Godgegewe voorreg.
  • Maak tyd om vriendelik te wees, dis die pad van geluk.
  • Maak tyd om te lag, dis die musiek van die siel.
  • Maak tyd om te gee, die tyd en die jaar is te kort om selfsugtig te wees.
  • Maak tyd om te werk, dis die prys van sukses.
  • Maak tyd om goed te doen, dis die sleutel na die hemel. Dit is geloof wees, en gelowige wees, en om Christen te wees in praktyk.

Natuurlik word ’n mens in die eerste plek ’n Christen om gelowig te wees en om kinderlik te glo in en die aanvaarding van die Evangelie se boodskap. Maar dan moet ons ook daders van die woord word. Soos die Teoloog, Helmuth Thielicke, dit konkreet stel “Ons tjekboek het meer as ons gesangboek met die hemel en die hel te doen.”  En saam met ons tjekboek gaan ons tyd wat ons tot beskikking tot God en ons medemens stel.

In die woorde van Paulus: “solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen”. Wie bring die Here vandag oor ons pad teenoor wie ons kan goed doen? Kom ons wees prakties en dink vandag aan iemand vir wie ons vandag kan goed wees.  Miskien buite jou klein kring van die huisgesin.

Gebed: Here, dankie dat ons met oop hande kan leef. Gee vir ons die genade, om tyd te maak, om goed te doen, vandag, môre, oormôre en vir die res van die jaar. Amen.