Dit is vandag Donderdag in die Groot Lydensweek wat ons tans herdenk. Die betrokke Donderdag voor die kruisiging van Jesus, het daar geweldig baie dinge gebeur. Jesus het sy weg na Jerusalem gevind, die aand daar aangekom en saam met Sy dissipels in ’n bovertrek vergader. Hier het baie gesprekke en aktiwiteite plaasgevind, waarvan die belangrikste waarskynlik die instelling van die nagmaal was. Ons lees daarvan in Matteus 26:26 en verder: “Terwyl hulle geëet het het Jesus brood geneem en die seën gevra en aan Sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet, dit is My liggaam. Daarna het hy ‘n beker gevat en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed wat My verbond geseël en vir baie uigegiet word, tot vergewing van sondes.”
Ek wil graag vandag ’n stukkie aanhaal wat ds. Nioma Venter, namens die die moderatuur van die kerk, aan gemeentes uitgestuur het. Dis is pragtig gestel en ek deel dit vanoggend saam met hierdie dagstukkie met julle:
“Daar is ’n voetpad teen die westelike hang van die Olyfberg op pad na Jerusalem waar ’n klein Fransiskaanse kapel met vensters in die vorm van ’n traandruppel in 1955 deur die argitek Antonio Barluzzi gebou is. Die kapel staan bekend as Dominus Flevit, Latyns vir “The Lord wept”, en merk die plek waar pelgrims meen die gebeure in Lukas 19:28-44 afgespeel het. ’n Betekenisvolle mosaïekwerk op die vloer voor die altaar in die kapel beeld ’n hen uit wat beskermend oor haar kuikens waak. Dit is hier waar Jesus in tere besorgdheid oor Jerusalem ween, wetende dat die stad nie gereed is om die vrede en verlossing waarvoor Hy bereid is om te sterf, te ontvang nie.
In die dae wat volg, demonstreer Jesus iets van sy eerste boodskap op die berg van saligsprekinge. Tree vir tree onderweg na Golgota lei Jesus die koms van die Koninkryk van God in deur die broosheid van trane, ’n sagte gees, besorgdheid oor die mense rondom Hom en ’n dienswillige gelatenheid oor die onreg wat teen Hom gepleeg word.
Hoop en vrede en verlossing word volbring.
Tog vloei die bloed steeds vanweë huishoudelike geweld en misdaad en woed sinnelose oorloë voort. Die polarisasie tussen mense raak net groter en daarmee saam die vyandigheid en nyd. Sistemiese onreg ontneem mense van ’n kwaliteit-lewe en daar sterf sowaar nog in ons dag en tyd kinders van die honger in ons eie land! Vandag vertoef ons in die gees saam met Jesus teen die hange van die Olyfberg terwyl ons die omgewing rondom ons gadeslaan en smekend bid: Here, wees ons genadig! Herinner ons aan u gesindheid en die prys van verlossing en gebruik ons as instrumente van hoop en vrede tot U eer.”