Gedagte vir die dag | Donderdag 12 Augustus 2021

Gebed en emosie:

Dit is soms snaaks om te dink hoe die wêreld al verander het.  Toe ek ’n kind was het ’n mens nie jou feilbaarheid en emosies op jou mou gedra nie. Ons het as jong seuns baie vir mekaar gesê dat om emosioneel te raak is ’n bewys van swakheid. Toe my pa oorlede is, het ek my trane terug gehou en net in my kamer probeer huil, want ’n mens moes vir die wêreld wys dat jy sterk is. Hoe het die wêreld nie al verander nie?

Vandag leef ons met die uitdaging om vir ons kinders te leer om emosionele volwassenheid te bereik.  Dit is soms ’n uitdaging indien ons nie self geleer het wat dit beteken om jou emosies wat op die oppervlak lê,  te hanteer en konfronteer nie. Die Psalms bly vir my een van my gunsteling Bybelboeke.  In die boeke het die skrywers emosies in die middel van ons gebedslewe geplaas.  Dit was amper asof die Psalmskrywers vir ons wou sê: Gebed gebeur nie sonder emosie nie. Psalm 3 is een van die  gebede wat met die lewe van Dawid verbind word. As ’n mens 1 en 2 Samuel lees sal jy sien hoe Dawid se lewe gelyk het en hoe die konteks lyk waarbinne hy gebid het.

Psalm 3 begin deur vir ons te vertel dat Dawid besig is om te vlug van sy seun, Absalom. Absalom wou vir Dawid as Koning vervang en het reeds baie ondersteuning ontvang. Dawid vlug en is bang, hy vrees vir sy lewe en sy identiteit. Dawid bid dus uit ’n plek vol emosie, waar hy eerlik is oor wat hy voel en waar hy is. En dit is waar hy die Here se beskerming ontdek.

Psalm 3:1-5

“1’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.

2Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my.

3Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela

4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.

5As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af.”

Dawid spreek sy vrees vir sy vyande eerlik uit. Gebed moet nie iets wees waar ons net woorde sê om dit te sê nie.  Gebed moet vir ons ’n stukke eerlikheid oor onsself – waar ons is en hoe ons is – gee. Dit is in hierdie rou emosionele gebed waar Dawid weer vir God ontdek. Dit is juis omdat Dawid sy emosie van vrees identifiseer dat hy sien dat God wel by Hom is.

Mag jy in hierdie tyd met emosie bid – nie om jou bekommernisse en vrese weg te steek nie, maar om dit voor God te bring sodat jy God daarin kan sien.

Kom ons bid saam:

Here, ons is bang en onseker.   Ons weet nie waarheen U in hierdie tyd met met ons en ons land op pad is nie. Here, maar ons weet dat U ook met ons werk te midde van ons vrees en angs. Mag U ons in hierdie tyd gebruik om die verskil te wees te midde van die onsekerheid.

Amen.