Gedagte vir die dag | Donderdag 11 November 2021

Daar bestaan ’n baie ou konsep wat die antieke mense gebruik het, om oor die lewe te reflekteer. Ons is almal reisigers saam oppad – het hulle gereeld gesê.  As gelowiges glo ons dat ons nie alleen op die groot pad van die lewe stap nie, maar dat God elke tree saamstap. God is die medereisiger wat langs ons loop, maar wat ook alreeds by die eindpunt vir ons wag.

 

Gebed van ‘n reisiger

Sny vir my, o Heer, ’n wandelstok of twee

uit die woud by Tsitsikama en loop met my mee oor die vlaktes van die Groot Karoo,

oor die berge van Natal, langs die kus af tot by Vleesbaai

tot by die groen van Riversdal.

 

Brand die hemel van die Vrystaat tot in my hart se dagboek in,

laat my nooit die lug vergeet nie wat aan die horison begin.

 

En Heer is dit dieselfde son wat by my reis se einde skyn?

Behou mens steeds die reuk van reën as jou geheue dalk sou kwyn?

Want ek vrees mos nie die vreemde nie, selfs die afstand laat my koud.

By U is daar geen leemte nie, U bly steeds my behoud.

 

Al reis ek oor die sewe see, skuif kontinente stil verby,

sal ek my voetval op U rig, my in die reis verbly.

 

Maar ek vrees tog wel die eensaamheid, ek skrik die groot alleen.

Dis dan wanneer U my moet dra want U weet ek gaan daarheen.

Laat die sterre dus my kompas wees en U steeds my ware Noord,

lei elke voetstap voor my reis, o Heer

Want dit is soos dit hoort