Gedagte vir die dag | Donderdag 11 Mei 2023

 

Vandag is Donderdag 11 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.

Martin Luther het eenmaal gesê: “Geloof is ‘n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewens duisend keer daarvoor sal prysgee… en dit is die werk van die Heilige Gees”. Net soos ons nie met ons blote oog sonhitte kan sien nie, so kan ons ook nie die onsigbare krag van die Heilige Gees sien nie; maar, bring daardie krag oor die vergrootglas van “lewende, waaghalsige vertroue”, dán kry jy die geestelike brandpunt waar dinge gebeur. Dan kry jy geloof-in-aksie!

Wat moet ons as gelowiges wat om dieselfde sentrale verwarmer (die Bybel) leef, se roeping in ‘n wêreld vol pyn en ellende wees?  Ek dink weer aan Martin Luther se aanhaling oor geloof: “Geloof is ‘n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewens duisend keer daarvoor sal prysgee . . . en dit is die werk van die Heilige Gees”.

In Handelinge 2 lees ons van ’n groepie gelowiges – waarskynlik bang weens al die oproer in Jerusalem se strate. Hulle wag, want Jesus het voor sy dood reeds beloof dat God sy Gees sal stuur.

God gaan met al sy krag, sy Gees, op ‘n vuurherdgroepie in die bokamer loslaat.

Die dissipels word die fokuspunt, die brandpunte. Hulle harte “kom tot kookpunt” vir God. As God ‘n mens aanraak verander jy. Die dissipels ook!  Hulle word lewende en waaghalsige vertrouelinge van God. Die res van Handelinge wys hoe skrikkerige mense die veilige ruimte verlaat en getuies word; sommige selfs tot hul dood toe. En deurentyd bring hulle lof aan God.

As jy ooit wonder, sê Luther, dit is wat dit beteken dat die Heilige Gees uitgestort is.

Daar is geen verskil tussen ons en die dissipels nie.  Hulle was ook net mense, maar hulle het lewende en waaghalsige mense vir God geword. Mag ons ook.

Gebed

Here, maak my ’n lewende en waaghalsige getuie.

Amen