Dis die gedeelte waaroor ons Sondag gaan preek, as deel van die lydingstydverse. Ek is besig met my voorbereiding toe besluit ek om hierdie gedeelte te lees:
Matteus 26:69. “Petrus het buite in die binnehof gesit toe ‘n diensmeisie na hom toe kom en sê: ‘Jy was ook saam met Jesus die Galileër.’ Maar hy het dit voor almal ontken: ‘Ek weet nie waarvan jy praat nie.’ Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien ‘n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: ‘Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.’ Weer het Petrus dit ontken en met ‘n eed gesê: ‘Ek ken die man nie!'”
Ek het die afgelope week met die oog op my voorbereiding vir Sondag se preek afgekom op dié Joodse legende wat ek eintlik baie goed ken. Dis ’n storie van twee broers wat plase langs mekaar besit het. Een nag na die insameling van die oes, het een van die broers vir sy vrou gesê: “My broer is ’n eensame man sonder vrou en kinders, ek sal in die nag uitgaan en sommige van my gerwe na sy plaas oordra. Dit gebeur toe dat die ander broer op dieselfde nag besluit: “My broer het ’n vrou en kinders en het die oes baie meer nodig as ek. Ek sal van my beste gerwe na sy plaas toe oordra. Die volgende oggend is hulle hope gerwe toe onveranderd en ewe groot.
So het die oor en weer gerf draery nag na nag aan gegaan totdat die twee broers mekaar op ’n heldermaanskynaand met hul arms oorlaai van die goudgeel gerwe raakgeloop het. Op daardie besonderse ontmoetingsplek, so lui die legende, is ’n tempel gebou, omdat dit as die plek beskou word waar die hemel en aarde bymekaargekom het.
Wat beteken dit om iemand in die steek te laat? Wat beteken dit teen die agtergrond van lydingstyd waar Petrus vir Jesus verloën het? Verloëning beteken nie noodwendig om net iemand in jou lewe te ontken nie, maar ook wanneer ’n mens nie dit doen wat reg is nie. Om nie te doen wat jou verantwoordelikheid is nie – dan verloën jy eintlik ook iemand. Wie is dit wat die Here op jou en my harte lê? Vir wie moet jy ’n gerf dra?
Miskien in die nag sonder dat die persoon daarvan weet. Ons hoef ook nie altyd anoniem na iemand uit te reik nie – nooi iemand vir ’n koppie tee, of reik uit na ’n ou vriend, of iemand wat a.g.v. die inperkingstyd van die buitewêreld en mense afgesny is. Ek was die afgelope week by mense wat vir my gesê het: “Hier kom niemand meer by ons nie, want ons is te bang dat iemand ons moontlik met die virus sal aansteek.”
Mag ek en jy die genade ontvang om in hierdie uitdagende tye op kreatiewe wyses tempels te bou, waar die hemel en aarde mekaar ontmoet.
Gebed: Here, gee ons die genade om ’n hand uit te steek en met oop hande te leef. Gee dat u liefde, in ons woorde, in besonder aan ons dade en ons lewens ‘n werklikheid sal wees.
Amen.