Ons reis in hierdie tyd deur die lydenstyd van Jesus en dink hierdie week spesifiek aan die sewe kruiswoorde wat Hy kreunend aan die kruis op Golgota geuiter het. Pas nadat Hy vir al die skuldenaars rondom Hom by Sy Vader gepleit het dat Hy hulle vergewe, begin daar ’n interessante gesprek tussen die gekruisigdes op Golgota. In hierdie gesprek hoor ons dan ook die tweede kruiswoord van Jesus.
Lukas 23:39: “Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster en gesê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself, en ons ook. Die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie, jy ondergaan tog dieselfde straf aan as hierdie man. In ons geval is dit regverdig want ons aanvaar die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerd gedoen nie. Verder sê hy: “Jesus dink aan my, wanneer U in U koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Ons het reeds gehoor dat die eerste drie kruiswoorde van Jesus op daardie Vrydag so ongeveer tussen 9:00 en 12:00 gesê is en dat Hy praat hy oor en met mense direk rondom Hom. Gister het ons stilgestaan by die eerste woord waar Hy ingetree het in sy pleitgebed: “Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” In die teks van vandag lees ons dat Hy met ’n misdadiger praat – ’n veroordeelde rower, ’n helverdienende sondaar. Wat ons diep tref is dat die tweede misdadiger vir Jesus intree. Hulle verdedig Hom teen die ander misdadiger en dan uiteindelik in hulle nood, as veragte mense van die samelewing, na Jesus roep: “Jesus dink aan my, wanneer U in U koninkryk kom”.
Ons sien die meelewende, deernisvolle hart van Jesus aan die kruis in sy laaste woorde. Jesus is kreunend van die pyn, maar nogtans wys Hy sy hart van omgee en liefde vir mense in nood, ook vir hierdie veragte misdadiger, hierdie persoon wat nie meer deur die samelewing gehoor word nie. Net voor Hy sterf roep Hy tot Jesus in sy nood. En dan Jesus se deernisvolle antwoord: “Ek hoor jou, Ek dink aan jou, Ek belowe vir jou ’n toekoms. Jy sal saam met my in die paradys wees.”
Raak hierdie tweede kruiswoord van Jesus ook jou hart aan? Waar jy ookal in jou lewensreis is en moontlik self diepe nood of veragting ervaar, of dalk eensaamheid? En wanneer jy na Jesus roep, antwoord Hy jou in hierdie woorde: “Ek hoor jou. Ek dink aan jou, Ek vat jou saam met my die toekoms in, jy sal saam met My in die paradys wees.”
Kom ons gryp weer hierdie liefdevolle bemoedigende belofte van Jesus aan, ook as ons dink aan die pragtige Taize-lied wat ons in hierdie tyd sing:
“Jesus o dink aan my wanneer U in u ryk kom”
Here Jesus, ons roep, soos hierdie veragte, skuldige misdadiger, ook na U. In ons nood pleit ons: “O Jesus, dink aan my.” Ons hou vas aan u belofte, en dat U vir ons ’n toekoms skep. Amen.