Gedagte vir die dag | Donderdag 10 Augustus 2023

 

1 Sam 2:4 Hanna: 4“Die boog van die magtiges is verbreek, dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry. 5Wie versadig was, moet hulle nou vir brood verhuur, wie honger was, het oorgenoeg om te eet. Die onvrugbare bring sewe in die wêreld, die een met baie kinders kwyn weg.

Refleksie

Hanna se lied kom uit ’n plek van afhanklikheid, ’n plek waar sy vir die Here gesmeek het om vir haar ’n uitkoms te gee. Dink gou vir ’n oomblik, van wat of wie is jy elke dag afhanklik om jou lewe te leef? Watter van hierdie aanvaar jy dalk as vanselfsprekend? Waarvan dink jy behoort ’n mens in afhanklikheid te leef?

Hanna se loflied maak dit duidelik en herinner ons dat almal afhanklik is van die Here. Die Here is die een wat die boog van magtiges breek en aan die wat struikel nuwe krag gee. As ons rondom ons kyk kan ons maklik raaksien wie mag het en wie struikel, wie honger is en wie genoeg het om te eet. Hanna herinner ons om hierdie dinge nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar te besef dat elkeen afhanklik is van die Here en dat die lewe skielik verander. Ons moet dus versigtig wees om iemand se waarde te koppel aan mag of magteloosheid. Sy sing die lied uit ’n plek van iemand wat magteloos was, maar deur die Here nuwe krag en nuwe lewe gekry het. Dit is vir ons ’n bemoediging dat die Here altyd nuwe lewe moontlik kan maak, selfs in die moeilikste omstandighede.

Hoe voel jy vandag? Voel jy soos iemand wat magtig is, wat nuwe krag het? Voel jy versadig en bevredig? Sê in afhanklikheid vir die Here dankie vir hoe die Here jou geseën het en vra hoe jy jou krag kan gebruik om ook ander te seën.

Voel jy dalk soos iemand wat magteloos is, of wat struikel? Voel jy soos iemand wat wegkwyn? Maak jou hart teenoor die Here oop en bid Hanna se lied in afhanklikheid as ’n gebed van hoop vir die nuwe lewe wat die Here ook vir jou kan moontlik maak.

Gebed

Here, U wat die boog van die magtiges verbreek, U wat nuwe krag gee aan die wat gestruikel het. U wat gee en neem. Help ons om vandag in afhanklikheid van U te leef. Dankie vir alles wat U vir ons voorsien uit U genade.

Amen.