Gedagte vir die dag | Donderdag 1 Julie 2021

Die integrale lewe

Wanneer ‘n mens die fliek Titanic kyk wonder jy hoe so ’n massiewe skip kon sink nadat dit teen so ’n klein ysberg gebots het. Kenners sê dat meer as 80% van ’n ysberg se massa sit onder die oppervlak van die see, so net 20% is sigbaar.  Ons as mense is ook tot ’n mate ook só, wat mense van ons sien is slegs een vlak van wie ons is, want daar is baie wat onder die oppervlak versteek lê. Ken Wilbur, die filosoof en skrywer het die Integral Theory, of Integrale teorie na vore gebring. Hierdie teorie sê dat ons as mense bestaan uit vier spasies: denke, aksies, verhoudings en omgewings. Wilbur het hierdeur twee vlakke uitgewys, wat daarop dui dat ons denke en ons verhoudings elemente is wat deel is van ons menswees wat ander nie kan sien nie. Ons aksies en omgewings is wel die dele wat almal kan sien.

Integral theory se hoof teorie is dat ons net kan groei as ons meer en meer buigbaar raak en ruimte kan skep binne elkeen van die vier elemente. Wat dit van ons vra is om bewus te wees van dit wat binne ons is en dit wat ook buite ons is, sodat ons meer spasie kan skep. Christus het ook vir ons gelei om só te dink:

Lukas 11:33-36.

33 “’n Mens steek nie ‘n lamp op en sit dit dan weg in ‘n kelder of onder ‘n emmer nie. Nee, jy sit dit op ‘n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. 34Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. 35Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie. 36As jou hele liggaam verlig is en nie ‘n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer ‘n lamp jou met sy skynsel verlig.”

Dit is interessant hoe Jesus hier die oog gebruik as die lamp van die liggaam, so asof Jesus ook vir ons wil sê dat ons bewus moet wees van dit wat binne ons aan die gang is. In die volgende paar dae gaan ons bietjie hoor hoe ons meer ruimte binne elke element kan skep om meer geïntegreerd in hierdie tyd te lewe.

Gebed:

Here, dankie dat ons weer vandag kan besef dat ons verhouding met U ons hele menswees kom verander en skuif. Dankie dat U die God is wat ons uitdaag om meer spasie te skep binne ons menswees sodat ons meer en meer soos U kan word. Amen.