Gedagte vir die dag | Dinsdag 9 November 2021

Ek dink geluk is ’n keuse. Toe my pa oorlede is was ek nog op skool.  Daar was ’n paar tieners in my graad wat ook hulle ouers verloor het.  Nie almal van ons het die selfde lewenspaaie gekies nie en vir van ons was die verlies aan ’n ouer ’n  breukpunt in ons lewens wat tot baie ander hartseer en pyn gelei het.  Ek het as tiener vir myself gesê dat ek kan kies hoe my lewe uitdraai, dit wat met my gebeur is dit wat MET my gebeur.  My  lewensstorie gaan nie noodwendig deur die gebeure bepaal word nie.

Ek dink Jesus het iets rondom ons keuses probeer verduidelik in my gunsteling gelykenis, die gelykenis van die verlore seun.

Die gelykenis vertel van ’n seun wat weg van die huis af gaan, sy pa se geld mors, alles verloor en terug kom huis toe. Die pa ontvang hom weer met ope arms terwyl die oudste seun al die tyd nog by hom gebly het en gedoen het wat hy vra.

Lukas 15:25- 31

25“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’

28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’

31“Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”

Die oudste broer weier om te aanvaar dat die pa die jonger broer sommer net so vergewe.  Dit is asof Jesus hier probeer sê dat jy kies of jy deel van die partytjie gaan wees en of jy buite die partytjie gaan staan met jou hande gevou. Jesus vra in hierdie storie eintlik vir ons of jy soos die jonger broer,  of die ouer een is? Want jou keuses is jou keuses en jy kies jou eie geluk.

Mag jy terugstaan en jou keuses krities bekyk, mag jy sien dat jy jou eie geluk in hierdie lewe kies. Mag jy nie soos die ouer broer kies om buite die partytjie met gevoude arms te staan nie.

Gebed:

Here dankie dat U vir ons beheer gee oor ons lewens.  Dankie dat ons kan kies hoe ons die lewe wil benader en hoe ons daarna kyk. Here, mag ons oë oop wees om lewe en geluk te kies in hierdie onsekere tye wat ons beleef.

Amen