Vandag is Dinsdag 9 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.
Oor ’n paar weke begin ons met ‘n nuwe seisoen in ons kerklike jaar: Pinkstertyd. Daar is geen groter bewys van God se beloftes aan ons as die uitstorting van die Heilige Gees nie. Die Heilige Gees word as die “deposito” beskou van al God se beloftes aan ons wat sal realiseer – of soos ons in Efesiërs 1:14 lees: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos”.
Jy mag elke belofte van God glo, omdat die Heilige Gees hier by ons is!
Daar is baie beloftes in die Bybel opgeteken, maar het jy al ooit gewonder watter een van hierdie beloftes van God die meeste herhaal word? Is dit dat God ons sondes sal vergewe? Is dit dat daar vir ons lewe na die dood is? Nee, dit is dat God ons nooit alleen sal laat nie. God is by ons!
Die belofte kom van vroeg in die Ou Testament af. Dink aan die belofte van God aan Josua in Josua 1:9: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan”. Jy lees dit oor en oor . . . moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Dit is presies wat Jesus se naam ook beteken: “Immanuel”. God is met ons!
Gebed
Heilige Gees, dankie dat U die waarmaker van hierdie belofte is. Amen