Matteus 26:1-2. “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: ‘Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.’”
Ek hou baie van fliek. Om ’n lekker fliek saam met jou geliefdes te kyk, is ’n heerlike manier van ontspanning. As jy by die Kines gaan fliek moet jy gewoonlik na ’n paar voorprente kyk. Die lokprente gee ’n mens ’n idee waaroor nuwe flieks gaan. Dit is amper soos ’n lusmaker, of ’n “sneak-prewiew” soos hulle in Engels sê. Die voordeel daarvan is dat jy dan weet waaroor ’n bepaalde fliek gaan. Dit is eintlik wat in ons teks ook gebeur. Jesus gee vir die dissipels ’n voorsmakie van dit wat voorlê. Dit is amper soos ’n voorprent wat voor hulle afspeel.
In hierdie gedeelte kondig Jesus aan dat Hy gaan sterf. Die lyding en dood van die Messias is deur God beplan. Dit was nie maar net sommer ’n sameloop van omstandighede nie. Jesus het geweet waarom Hy op aarde was en wat vir Hom voorlê.
Dit is duidelik dat die Here wou hê dat sy dissipels moes verstaan waarvoor Hy binnekort te staan sou kom, en wou hulle ook daarop voorberei. Meer nog, Hy wou hê dat hulle moes verstaan dat hierdie dinge, hoe sleg dit ook al was, tog ‘n deel van God se groot verlossingsplan was en die rede was waarom Hy na die aarde toe gekom het. Daarom trek Hy die gordyn as’t ware op so ’n skrefie oop sodat hulle al iets kan sien van dit wat voorlê.
Jesus het na die aarde gekom vir die kruis. Van sy geboorte af was Hy doelgerig op pad na die kruis. In die kruis kry sy koms na die aarde sin en betekenis. Om die mensdom van sonde te verlos moes Hy eers sterf. Jesus het gekom om sy lewe as losprys vir baie te gee. Jesus is dus gebore om gekruisig te word. Op geen ander manier kon Hy aan die opdrag uitvoering gee nie.
GEBED
Here baie dankie dat U vir ons aan die kruis gesterf het. Dankie dat U my verlos het.
AMEN