Gedagte vir die dag | Dinsdag 9 Augustus 2022

Vandag is Dinsdag 9 Augustus en ons is besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God wil laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel te maak van sy aktiwiteite. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat jy God leer ken deur ervaringe terwyl jy hom gehoorsaam en Hy sy werk deur jou doen.

Johannes 14:23 Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan”.

Wanneer ons uiteindelik besluit het om God in geloof te volg, en ons die nodige aanpassings gemaak het, moet ons Hom gehoorsaam. Wanneer ons doen wat God van ons vra, maak nie saak hoe onmoontlik, of verwarrend dit mag wees nie, wil hy sy plan en sy wil deur ons uitvoer. Nie net sal ons dan die krag van God se teenwoordigheid ervaar nie, maar ander rondom ons sal dit ook ervaar.

As jy God se mag en krag in en deur jou wil ervaar, moet jy in geloof loop en lewe, meer aanpassings maak en heeltyd gehoorsaam wees aan dié Een wat jou vra om deel van sy koninkryk te wees. God sal deurentyd sy karakter aan jou openbaar. Jy sal meer en meer van hom en sy wil leer ken wanneer jy gehoorsaam is aan sy stem. Wanneer jy hartseer is, sal Hy na jou toe kom as trooster. Wanneer jy iets nodig het, sal Hy vir jou sorg. Wanneer jy ‘n ernstige uitdaging in die gesig staar, sal Hy as Almagtige Vader intree en jou help. Jou verstaan van God se karakter en wie Hy is, moet die heeltyd groei.

Hoe beïnvloed God se liefde jou gedagtes, besluite en optrede?

Hoe beïnvloed jou liefde vir God jou gedagtes, besluite en optrede?

Gebed: Here, help my om in gehoorsaamheid die pad saam U te stap. Amen.