Matteus 9:36: “Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.”
Ek glo almal sal saamstem dat een van die mooiste liedere wat ons sing in die kerk, en wat ons by Taize geërf het, is Ubi Caritas; “Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.”
Vandag se storie handel oor deernis en luister:
Daar was eendag ’n weduwee wat geglo het die lewe draai net altyd sy rugkant na haar toe. En sy het goeie rede gehad om so te dink. Na haar man se dood, was haar seun haar hele lewe, maar hy het ook gesterf en sy is weer alleen agtergelaat. “Waarom moet ék dan so swaar kry?” het sy dag vir dag gesug. Sy was ontroosbaar.
Ten einde raad, neem haar vriendin haar na die ou wysheer wat op die rand van die dorpie bly. “U weet so baie van die lewe”, sê sy. “Kan u nie tog die ou vrou help om van haar smart ontslae te raak nie?” Die ou man sê toe vir die weduwee: “Gaan soek vir my ’n mostertsaadjie wat uit ’n huis kom waar daar nog nooit hartseer was nie. Daarmee sal ek vir jou ’n wonder doen en jou hartseer genees.”
Die weduwee het onmiddellik met haar soektog begin, want haar hart was baie seer. “Ek sal eerste by die ryk mense van die omgewing probeer,” dink sy – “ hulle sal tog sekerlik niks hê om oor hartseer te wees nie.” By die grootste, mooiste huis klop sy aan: “Goeiedag” groet sy die vrou wat oopmaak. “Ek is opsoek na ’n huis wat nog nooit hartseer geken het nie, dit is seker so huis die, né? “Nog nooit hartseer geken nie?” vra die vrou terwyl daar trane in haar oë kom. “As dit is wat jy soek, is jy by die verkeerde huis. Ek kan jou alles van hartseer vertel, maar kom binne dan gesels ons.” Die weduwee het ingegaan en na haar geluister. Na ’n paar dae was die vrou nog steeds aan die praat. Toe die weduwee uiteindelik voel dat sy die ryk vrou kon alleen laat, was hulle goeie vriendinne.
Toe besluit die weduwee om by ’n klein, armoedige huisie aan te klop. Maar ook hier was die reaksie omtrent dieselfde. Die hartseer was van ’n ander aard, maar niks minder nie. En so was dit by al die huise waar sy aangekom het. By die koning se paleis, tot by die kleinste hutjie, geen tuiste was sonder sy kwota verdriet nie. In haar maande lange reis van dorp tot dorp, het sy soveel deernis ontwikkel met die hartseer van ander, dat sy van die wonder mosterdsaadjie vergeet het. Die ander mense se pyn het vir haar belangriker geword as haar eie. Haar deernis met ander, het die mosterdsaad geword wat haar genees het.
“Deernis met ander, is twee harte wat saam swaar trek.” Benjamin Disreali
“Die enigste geneesmiddel van iets of iemand wat vir jou kosbaar is, is om in ‘n nuwe toonaard te probeer liefhê. Nie meer ter wille van die vrede wat jyself daaruit kry nie, maar ter wille van die vreugde wat jy gee deur ander wat ook swaarkry te troos. J. Neville Ward.
Gebed
Here, leer my asseblief om die nood van ander raak te sien, en toe te laat dat hulle nood my eie nood in perspektief sal plaas.
Amen.