Gedagte vir die dag | Dinsdag 8 Februarie 2022

Romeine 12: 13 en 14: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.”

Ons kom vandag by die laaste oordenking oor hierdie baie besondere gedeelte uit die Woord van God. Ek glo elkeen is met groot entoesiasme gelaat oor die aanmoediging wat ons hieruit vir ons daaglikse lewe en wandel saam met God, ontvang het.

In die vorige teksgedeeltes was die riglyne baie op ons persoonlik gerig, op ons eie persoonlike omstandighede, ons “interne” gevoelens en denke. Op daardie vlak is ons toe aangemoedig om vol entoesiasme die padtekens te volg.

Dit is egter nie net alleen ten opsigte van onsself wat hierdie aanmoedigings geld nie.  Dit is ook vir ons kontak met ander mense, medegelowiges en almal anders wat ons pad kruis. Dit is baie interessant dat Paulus ook hier sommer dadelik melding maak van mense in nood en gelowiges aanmoedig om baie spesifiek op hulle te fokus. Om hulle in hul noodsituasie, wat dit ookal mag wees, by te staan. Dit is ’n kenmerk van die Jesus-gemeenskap, om om te gee en om armes en hulle wat in nood is, te versorg. Ons het dit alreeds in die eerste Christelike gemeente in Handelinge gesien hoe alles daarop ingestel was om die weduwees, en ander in nood, by te staan.  Hiermee saam, kom die appél op ons as gelowiges om ons toe te lê op gasvryheid.  Die Lewende vertaling stel dit baie mooi: “maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees, maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie.”

Dit is baie maklik om kospakkies vir mense in nood uit te deel. Dit is waarskynlik baie moeiliker om ook teenoor hulle gasvry te wees en na hulle om te sien volgens hulle behoeftes vir verblyf en hul algehele welsyn. Gasvryheid is nie net om koppies tee te skink vir gaste of om ons gastekamer vir mense oop te maak nie. Dit is spesifiek gerig op mense in nood en die wat nie het nie. Vir ons as gemeente, kerk, geloofsgemeenskap, is hierdie ’n baie groot uitdaging , maar ook ’n geleentheid!  Ook waar ons nou soveel haweloses, en ander noodbehoewende mense rondom ons sien. Of ons daarvan hou of nie, ook teenoor hulle moet ons gasvry wees.

Laastens moedig Paulus ons in vers 15 aan: “Wees bly saam met die wat bly is, en treur saam met die wat treur.” Ja, een riglyn vir ons wat ons sterk aanspreek is om gefokus te wees op mense se gevoelens en emosies. Om regtig daarmee te kan identifiseer, asof dit ons eie emosies is. Daarom die versoek: identifiseer julle met die wat bly is, wees bly saam met hulle, en treur saam met die wat treur. Op so ’n wyse, raak ons ‘n venster van God se hart.

Gebed

Here, help ons om elke dag gasvry te wees teenoor mense wat ons nie eintlik as ons gaste wil aanvaar nie. Gee vir ons die gesindheid van Jesus Christus om ook met hulle te identifiseer en hulle te hanteer as waardige skeppinge van God.

Amen.