Josua 2:11. Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.
Refleksie
Hierdie versie kom uit die mond van Ragab, ’n prostituut in die dorp Jerigo, wat die Israelitiese verkenners beskerm het. Haar woorde mag dalk een van die vroegste geloofsbelydenisse wees. Ek kan my indink dat baie mense in Jerigo haar vrees en angs gedeel het, dat almal, soos Ragab sê, moedeloos is teen Israel. Ek wonder egter hoeveel ander sou soos sy kon sê, “want, julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.” Sy het van vêr af gehoor wie die God van Israel is en sy het geglo.
Later word Ragab en haar familie deel van die volk van Israel. Ragab die prostituut word selfs genoem as een van die geloofshelde in Hebreërs. Dit is vir my een van die mees besonderse verhale in die Bybel, omdat dit vir ons wys wat dit beteken om deel te wees van God se volk. ’n Vreemdeling word deel van God se volk, nie op grond van haar goeie werke of sondelose lewe nie, nie op grond van haar nageslag nie, maar sy word deel van God se volk omdat sy erken dat “God die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.”
Mag haar verhaal ons inspireer om weer te dink oor wie God deel maak van sy verhaal en selfs mense soos ek en jy deel maak van sy uitverkore volk.
Gebed
Here, vandag wil ons net saam met Ragab bid en erken dat U God is, die Here, bo in die Hemel en onder op die aarde. Mag ons U raaksien en erken soos wat Ragab U raakgesien het en erken het in haar lewe. Mag ons ook ander deel maak van u volk, u koninkryk, soos wat Ragab deel geword het van u volk.
Amen