Matteus 11: 25. Van daardie tyd het Jesus gesê: Ek prys U Vader, Here van hemel en aarde, dat u hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.
Wat beteken dit dat ons met Kersfees kom vier dat God mens kom word het? Filippense 2:7-9, wat een van die oudste liedere is wat van die vroeë Christendom bewaar gebly het getuig hieroor: God het nie aan sy Goddelike karakter vasgeklou het nie, maar die gestalte van ‘n mens aangeneem waarna Hy homself nog verder verneder het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. God verskyn dus nie net wanneer ons gedagtes hom kan bedink of begryp, of wanneer ons insigte Hom in die gebeure van ons tyd kan raaksien nie.
Die implikasie van hierdie belydenis is radikaal omdat die Here as te ware op verskillende maniere onder alle mense kom inskuif waar ons en ander in sy teenwoordigheid kan leef. So, hoe lyk die verskyning? Johannes 1 beskryf dit as “vol van genade en waarheid”. Dis genade onbeskryflik groot. Hoe verander hierdie besef jou dag waar jy tussen ander en in die realiteite van die alledaagse leef?
Gebed
Here, ons kom bid vandag eenvoudig dat die genade onbeskryflik groot van u verskyning vandag tot ons sal deurdring. Dankie vir oomblikke waarin U ons help om deur ons denke, insig in moeilike en ingewikkelde situasies te kry, maar dan ook dat u op eenvoudige maniere in ons mensheid verskyn. Help my vandag begryp dat U op hierdie wyse tot veel meer in staat is as wat ons dink of kan begryp.
Amen.