Ek wens ek kon die hele gedeelte lees, maar die agtergrond is die vlug van die gesin van Josef, Maria en Jesus. Dan die opvolgende vlug na Egipte, die kindermoord, die terugkoms uit Egipte, die gedeelte wat ek lees is Matteus 2:13. “Nadat hulle vertrek het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”
Ek dink baie oor hoe dit in die huishouding van Maria en Josef gegaan het, met die klein Jesus. Maar ook met die uitgebreide familie. Soms verromantiseer ons hierdie familie. As ons kyk hoe dit gegaan het ten tye van Jesus se geboorte dat die kinders doodgemaak moes word, en toe gevlug op ’n donkie. Dan die hele verhaal van hoe dit met hulle in Egipte gegaan het, en hoe hulle meer moes hervestig. Jesus het gekom en Hy het met ons kom identifiseer in ons menswees. Hy het gekom as ’n klein eenvoudige kind.
Ek het gedink aan Sheila Cussons se gedig: “Klein ballade”
Ek soek die huis van ’n timmerman
Ek soek die tafel, die eenvoudige gedekte,
en die bêreplek van die botterspaan
Van Maria die Onbevlekte.
Ek soek die dinge van hulle elke-dag,
Ek soek die praat en die maklikste lag
in daardie gebenedyde huis:
Neem hierdie pad, klop aan die deur,
na buite toe dwaal ‘n varsbroodgeur
En sê nou hulle is tuis?
My moed begeef my en ek vlug,
Maar iets sê in my gaan trug, gaan trug;
Sy staan reeds in die deurkosyn…
Toe draai ek om en ek vind verstom
Ek het my voor my eie deur gekom;
My huis is Hare, my huis is Syne!
Nou ken ek die huis van die timmerman,
Ek ken die tafel, die eenvoudige gedekte,
En die bêreplek van die botterspaan
Van Maria die Onbevlekte.
Jesus het in ons kom woon. Hy het kom woon deur sy Heilige Gees in ons, Hy is nie vêr nie. Hy woon in my en jou huis. Hy sit saam met ons om die Kersfeestafel. Hy sit saam met jou kinders wat vêr is. Hy sit saam om die tafel wanneer jy swaar kry. Hy lag saam met ons as ons bly en dankbaar is, wanneer ons hartseer en eensaam is. Nou ken ek die huis van die timmerman, ek ken die tafel. Die eenvoudige, gedekte. Want dit is my en jou tafel wat gedek word. Hy is daar by die braaivleisvuur. Hy is daar as ons saam is met ons geliefdes, en ook wanneer ek eensaam is, is Hy teenwoordig.
Gebed:
Here, dankie dat die huis van die timmerman, ons eie huise is en dat U daar teenwoordig is.