Gedagte vir die dag | Dinsdag 6 Oktober 2020

Jesaja 33:2. “Wees ons genadig Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood.”

Israel is op hierdie stadium verpletter! Hulle is in ’n diep gat van desperaatheid oor hul situasie en ballingskap. Die eens magtige volk van God is weggevoer in ballingskap en dit was nie alleen vir hulle ’n groot vernedering nie, dit het ook ‘n magtelose desperaatheid by hulle tot gevolg gehad.  Die hoofstukke van Jesaja, hanteer hierdie situasie en omskryf dit volledig. Die profeet tree op, en tree namens hierdie volk in, in hierdie donker tyd van hulle bestaan. Die noodkreet in vers 2, is ook sprekend van die nood van baie mense, volke, en nasies, dalk ook gesinne en individue.

Kom ons kyk kortliks na die verskillende dele van hierdie noodroep.

Dit begin allereers met gebed – ’n uitroep!  Vroeër die week het ons ook gepraat oor hoe ons in nood moet roep, en hoe ons noodkrete in verskillende omstandighede vir ons hulp voorsien. Hier is Israel aan die roep, by monde van die profeet: “Wees ons genadig, Here”. Die eerste versoek en behoefte is dat God hulle moet raak sien waar hulle in die donker gat van desperaatheid beland het. Wat hulle van God vra is nie allereers om hulle eers daaruit te bevry nie, hulle pleit om sy genade. Hulle weet hulle was skuldig in die verlede en dit is waarom hulle in die situasie beland het. Hulle roep egter, vanuit hul skuld en desperaatheid, dat God hul sal begenadig, dat Hy sy hand sal uitsteek en dat Hy hulle sal vergewe.

Dit word dan opgevolg met die volgende sin, “ons vestig ons hoop op U!” In hierdie donker gat, roepende na God se genade, hou hulle vas en vestig hulle hul hoop op God. Dié God wat hulle leer ken het as die God wat in alle omstandighede uitkoms gee. Hulle bid verder: “Wees elke nuwe dag ons krag.” Hulle situasie het hulle kragteloos gelaat, moeg en uitgeput. Hulle weet dat as hulle God se genade ontvang, of hul hoop op Hom vestig, dan het hulle elke dag krag om aan te gaan met hulle lewe. Hulle kan daarom ook erken en bely: “U is ons redding in ’n tyd van nood.”

Vriende, spreek hierdie teksvers nie direk tot ons eie situasie in ons wêreld en in ons eie land nie? Die afgelope paar maande het ons met hierdie dagstukkies telkemale verwys na ons eie nood wat op baie plekke ongekende uiterstes bereik het as gevolg van die Covid-pandemie. Ook hoe dit ons intens raak – vir elkeen op ’n unieke manier asook kollektief vir ons as Suid-Afrikaners met die ekonomiese en ander gepaardgaande uitdagings.

Dalk is ons nou ook waar die ou Israel was? In ’n put van desperaatheid. Daarom moet en kan hierdie gebed ook ons gebed wees en kan ons dit vertaal en dit in ons konteks plaas: “Here, wees ons genadig. Ook hier aan die suid-punt van Afrika, in ’n wêreld wat gebuk gaan onder onvrede en talle bedreigings. Midde in dit vestig ons, ons hoop op God. Ons gaan sit nie in die hoek en huil oor ons situasie nie! Ons kyk vorentoe, ons kyk op, en ons is hoopvol omdat ons hoop gevestig is op ’n God wat werklik lewe. Daarom kry ons ook elke dag nuwe krag om aan te gaan, uit te hou, deur te druk, en ons dae mooi en sinvol te kan beleef.

Gebed

Here, wees ons genadig, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding, in tyd van nood. Amen