Vandag is Dinsdag, 5 Julie en ons is besig om na te dink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis in ons lewens gestalte kan vind tydens hierdie koninkrykstyd waarbinne ons in die kerklike jaar leef. Vandag kyk ons na selfbeheersing:
Hoeveel keer het jy dit nie al vir jouself gesê dat jy nie kan glo dat jy dit alweer gedoen het nie? Ons probeer om ons woorde en aksies te beheer, maar daar is altyd daardie een ding wat ons irriteer en dan gee ons toe aan die versoeking. Alle mense – Christene en nie-Christene, voer lewenslank hiermee ’n stryd. Maar die van ons wat Christus se geskenk van verlossing aangeneem het, beskik oor die krag om ons situasie te verander – aan ons is die krag bo alle menslike vermoëns gegee.
Selfbeheersing is gewortel in ’n diep respek en liefde vir jouself en ander mense as deel van die skepping van God.
2 Petrus 1:5-7 sê vir ons iets oor selfbeheersing: “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense”.
Gebed
Here, verryk my met die deugsaamheid van selfbeheersing. Mag wat ek sê en wat ek dink en doen tog vir U aanneemlik wees.
Amen.