Gedagte vir die dag | Dinsdag 5 Januarie 2021

Psalm 8:4-5“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?”

Dit gaan ons verstand te bowe om te dink dat elke persoon wat al ooit geleef het anders was. Alhoewel alle mense basiese eienskappe in gemeen het, is ons in eie reg elkeen ’n unieke skepping. Ons teks laat ons verstaan dat hierdie uniekheid so deur God bestem is en dat daar vir elke mens ’n spesiale plek by God is. Net soos wat elke hemel liggaam iewers in ’n groter geheel sin maak so pas elkeen van ons se lewens iewers in God se groter geheel in. Het jy dalk iewers deur die jaar gevoel of jou uniekheid tussen ’n magdom ander verlore gaan? Het ons dalk die fout gemaak om mense tussen wie ons leef se lewens gering te skat? Stap vanaand na buite en laat die omvang van die skepping jou oorweldig. Mag jy in die ervaring opnuut ontdek hoe groot God se genade vir elkeen van ons is.

Gebed

Here, wat ’n wonder om nog ’n dag te kan belewe, nog ’n dag wat U vir elkeen van ons gegee het. Dankie dat ek kan leef en u wêreld voluit kan geniet. Ek laat so maklik die ure deur my vingers glip. Dankie vir die unieke mens wat U my gemaak het en gee my ’n diep waardering vir mense wat anders as ek is, maar wie se menswees i beeld in my resoneer. AMEN.