Gedagte vir die dag | Dinsdag 4 Oktober 2022

 

Filemon 1:6 “My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.”

Paulus se gebed vir Filemon in hierdie teks herinner ons aan die belangrikheid van gemeenskap. Daar is sekere dinge wat ons net as deel van ’n gemeenskap kan leer. Sekere insigte wat ons nie op ons eie kan ontdek nie. Om ’n Christen te wees beteken ten diepste om deel te wees van ’n alternatiewe gemeenskap, ’n liggaam wat leef om meer soos Christus te word.

Die Westerse wêreldbeeld, veral na die Verligting in die 18de eeu, het geloof in ’n individualistiese rigting gedryf. Vir ons wat in Afrika leef, herinner Paulus ons hier aan die waarde van Ubuntu. Ubuntu beteken: Ek is, omdat ons is.

Richard Rohr stel dit sterk deur te sê: “If you think you are privately “saved” or enlightened, then you are neither saved nor enlightened, it seems to me!”

Ons geloof verbind ons almal en alles om ons anders. Om vir Christus te volg beteken om al hoe dieper ingenooi te word in gemeenskap met Hom, mekaar en die wêreld. Mag ons al hoe meer leer wat dit beteken om as gemeenskap van gelowiges as deel van die liggaam van Christus te leef.

Gebed

Here, dankie dat U ons innooi as deel van die gemeenskap van liefde van God-Drie-Enig. Mag hierdie gemeenskap wat ons met U het, ons al hoe dieper innooi in gemeenskap met mekaar en met die wêreld. Help ons om so te leef dat ander hierdie gemeenskap van liefde sal sien, sodat hulle ook deel mag kry aan die gemeenskap met U.

Amen.