Romeine 10:14. 14Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?
Refleksie
Hierdie vers openbaar ’n eenvoudige waarheid. As iemand nie vertel nie – kan ander nie hoor nie. Dit is ’n basiese opdrag vir elkeen van ons, om mense van Jesus te vertel.
Deesdae is dit nie altyd so maklik nie, omdat ons dikwels skaam is om oor geloof met vreemdelinge te praat, of stilbly uit respek vir die diversiteit van die wêreld waarin ons leef.
Dalk is dit vir ons moeilik omdat ons die woord ‘preek’ aan iets soos ‘oortuig’ koppel. Ons dink om te preek beteken om ander te oortuig om hulle gedagtes en harte te verander. Maar wat as ‘preek’ eerder gekoppel word aan ’n woord soos ‘getuig’. Dan beteken dit nie dat ons daarop ingestel is om ander te oortuig nie, maar dat ons eenvoudig net ons eie storie met mense deel – ’n storie waarin Jesus ’n sentrale rol speel.
Iemand wat ek ken het die gewoonte om getikte boodskappe met drie letters te eindig – PdH. Toe ek dit vir die eerste keer sien, vra ek hom waarvoor dit staan. “Prys die Here!”, antwoord hy. Of dit ’n goeie of ’n hartseer boodskap is, hy eindig die boodskap altyd met PdH. Op hierdie eenvoudige manier vertel hy iets van God se storie in sy lewe.
Mag ons ook kreatiewe maniere vind om God se storie in ons lewens te vertel, sodat ander kan hoor en kan glo.
Gebed
Here, U gee aan ons nuwe lewe! Ons is so dankbaar om deel van u storie te wees. Help ons om nie ander te probeer oortuig nie, maar om te getuig van wat U vir ons beteken en waarmee U met ons op pad is. Mag U ons gebruik om u storie te vertel, sodat ander kan hoor.
Amen