Gedagte vir die dag | Dinsdag 31 Mei 2022

Van die vroegste tye af het gelowiges mekaar gereeld herinner om te rus in God se teenwoordigheid. Hierdie uitnodiging was gebore vanuit ‘n diep oortuiging dat God ons nooi om skuiling te vind, beskerming te vind en rus te vind in God se teenwoordigheid. Wanneer ons dit doen, doen ons dit vanuit ‘n geloofsoortuiging dat daar grense is wat ons nie verby kan steek nie, dat daar goed is wat ek nie vir myself kan doen nie. Om te rus in God se teenwoordigheid is om te erken dat ek ‘n beperkte kapasiteit het. Dis die ontdekking dat my krag en denke en lewensasem net so ver kan gaan, en nie verder nie. Dan aanvaar ons, ons menslikheid. Dis dan wanneer ons oorgee, en afgee en rus in ‘n groter teenwoordigheid as onsself. Ons gee dan beheer af, en laat God toe om ons vas te hou. Mag ons dit ook vandag doen

Grote God, in die begin was U.

Vandag is U nog steeds.

Môre sal U daar wees.

Wie kan probeer om ooit ‘n ware voorstelling van U te maak?

U het geen liggaam nie.

U is ‘n bietjie soos die woorde wat uit ons mond uit kom:

Ons sê dit, en dit is weg,

Maar wat gesê is, bly altyd lewe.

So is U, groot God.

U was altyd gister,

U is vandag,

U sal altyd more wees.

Amen