Gedagte vir die dag | Dinsdag 31 Augustus 2021

Ek wil graag vandag met ‘n storietjie wat ek onlangs gelees het begin. Julle is welkom om dit met veral kinders te deel, wat dit waarskynlik baie sal geniet en daardeur kan leer.

Daar word vertel dat twee jong paddas op ’n dag in ’n groot emmer met melk geval het.  Altwee het dadelik begin om verwoed te spring om hul vryheid te bekom, maar die kante van die emmer was baie hoog en daar was geen vastrapplek vir hulle om van te spring nie.  Terwyl hulle gespring het, het die een padda ewe skielik tou opgegooi omdat daar geen ander moontlikheid sigbaar was dat hulle uit die melk kan ontsnap na vryheid toe nie. Na ’n rukkie het die arme padda opgehou spring en stadig aan tot by die bodem van die emmer gesak en verdrink. Die tweede padda het eintlik ook nie ’n uitkoms uit die krisis gesien nie, maar het steeds aanhou spring en aanhou spring!  Met elke sprong het dit gelyk asof hy amper bo uitgekom het, maar hy kon net nie die rand van die emmer bereik nie. Hy het egter aangehou om te sukkel en volhardend te spring. Uiteindelik, deur al sy volharding en vasbyt, het die melk geleidelik in botter verander, van al die beweging in die emmer.  Skielik het hy (of dalk sy!) vastrapplek op die harde botter gekry en het hy daarin geslaag om uit hierdie emmer bevry te word.

Dit gaan oor vasbyt!  Dit gaan oor aanhou en aanhou!  Soos Winston Churchill ook gesê het: “Never, never, never give up!”

Paulus het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel om so aan te hou,  uit te hou en vas te byt ongeag die moeilikste omstandighede. Daarom kan hy aan die einde van sy lewe die volgende bekende verse skryf: 2 Timoteus 4: 6-8: “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou.  Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.  Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.”

Paulus het aangehou en aangehou tot by die punt wat hy aan die einde van sy lewensreis kan getuig: “Ek het die goeie wedloop afgelê.” Ek het gelowig, enduit, volgehou! Ek het volhard.

Vriende, soos die padda in die emmer wat aangehou het ongeag die dreigende gevaar, soos Winston Churchill mense aangemoedig het om nie op te hou, of moed op te gee nie,  en met Paulus se voorbeeld: Kom ons volhard!  Kom ons druk deur midde-in ons moeilike omstandighede, wetende dit is God wat ons die krag daarvoor gee.  Sodat ons uiteindelik ook soos Paulus kan getuig: “Ek het end-uit, gelowig volgehou!”. Ook wat ons geloofslewe en ons betrokkenheid betref – laat ons nie ophou nie, laat ons gelowig volhou.

“Bly volhard soos atlete, dis God wat ons wedloop bepaal”

Gebed

Here, met U aan ons sy, sal ons volhard!

Amen