Numeri 11:25; 28-29. Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ‘n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie. 28Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!” 29Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”
Hierdie gedeelte is deel van ’n groter verhaal en speel af in die middel van die wildernis, waar die Israeliete honger is en by Moses daaroor kla. Moses is self moeg en alleen, omdat hy die las van die volk alleen moet dra. Die Here laat sy Gees, wat op Moses rus, op 70 van Israel se leiers rus, wat vir daardie oomblik as profete optree, maar vêrder aan as leiers optree om vir Moses by te staan. Die teenwoordigheid van God se Gees in iemand anders as Moses verbaas, of ontstel selfs ’n klomp mense, insluitend Josua, wat dit as ’n bedreiging tot Moses se gesag beskou. Moses reageer egter anders – hy sien iets van God se droom vir die wêreld raak. Daarom sê hy in vers 29: “Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”
In hierdie paar versies word ons bewus van twee waarhede. Eerstens: God los ons nie alleen nie. Wanneer ons voel asof ons las te groot raak en ons nie meer kan aangaan nie, herinner die Here ons dat niemand in die koninkryk van God alleen hoef te wees en self sterk hoef te wees nie, ons is deel van ’n gemeenskap, ’n volk, ’n liggaam, wat mekaar se laste help dra.
Tweedens: Sien ons dat God se Gees nie net vir sekere mense bedoel is nie, maar dat God sy Gees oor almal wil uitstort en verder, dat mense wat gevul is met die Heilige Gees nie vir medegelowiges ’n bedreiging behoort te wees nie, maar eerder iets om oor bly te wees. Ons wil soms, soos Josua, God se Gees vir onsself hou. Maar die Here wil sy Gees oor almal uitstort.
Vandag word ons uitgenooi om oor twee gedagtes te reflekteer:
- Hoe sal ’n wêreld lyk waar niemand alleen voel nie? Waar ons mekaar se laste ligter maak?
- Hoe sal ’n wêreld lyk waar God se Gees lewendig is in almal?
Mag ons saam met God werk om hierdie visie ’n realiteit te maak.
Gebed
Here, dankie dat ons kan weet dat ons nooit alleen hoef te wees nie, maar dat U vir ons mense rondom ons gee om ons te ondersteun. Selfs al weet ons dit, wil ons soms alleen eienaarskap van u Koninkryk neem. Herinner ons vandag dat U Gees vir almal bedoel is en help ons om saam met ander te bou aan U koninkryk.
Amen