Gedagte vir die dag | Dinsdag 3 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Genesis 25:19-Genesis 27: Die verhaal van Jakob

 Teks: Genesis 27:30

Toe Isak vir Jakob klaar geseën het, en hy nog skaars by sy pa Isak uit was, kom sy broer Esau terug van die jag af.

GEDAGTE

’n Mens staan verstom oor al die intrige en spanning in die lewe van mense en gesinne wat God kies om sy verlossingsplan uit te voer. Dit laat ons nie net besef hoe ontrou mense is nie, maar veral hoe groot en getrou God is.

God se trou blyk daaruit dat God terwille van sy verbond deur al die hartseer en menslike foute heen steeds hoopvol en lewegewend met mense besig is. Dat God mense hiervoor gebruik. God se genade is meer as mense se sonde en tekortkominge. Daarom seën en gebruik God mense met die oog op sy verbond. Met die oog op die toekoms.

Tog kan ‘n mens ook nie heeltemal die gevolge van verkeerde optrede ignoreer nie. Jakob het die een plan op die ander gehad om net te kry wat hy wou hê. Ten spyte van al hierdie verkeerde dinge weef God tog Jakob se verhaal by sy groter prentjie in. Ja, God gebruik hom as gewone sondaarmens om sy groter plan te laat verwesenlik.

Ons ken almal verhale van hoe God ons insluit by sy groter werke op aarde. God roep en bemagtig ons in ons gebroke konteks. Hy roep ons om kreatief ‘n verskil te maak. Gelowiges wat bid vir die koninkryk om te kom, is mense wat in gebrokenheid steeds vashou aan God wat met die aarde en al haar mense op pad is. Die beloftes is daar. Die opdragte ook. Gewone mense, onvolmaakte mense, mense soos ek en jy is deel van God se herskepping

GEBED

Here – as ons tog maar net op ’n vaste koers kan bly en ons aan u voorskrifte kan hou!  As ons al u gebooie in ag neem, sal ons nooit raadop wees nie. U bepalings is regverdig. Doen goed aan u diensknegte, dan sal ons lewe en u woord gehoorsaam. Maak ons oë oop sodat ons die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ons net op u beskerming aangewese.

Amen