Gedagte vir die dag | Dinsdag 3 Augustus 2021

Die twee paaie”

2Korintiërs 6:2:Luister nou mooi, dit is juis nou die tyd om mense te verwelkom wat na Hom toe kom. Vandag is die dag wat Hy mense wil red.

Hier in ons huis het ek ’n tekening van die breë en smal weg wat ek seker langer as 40 jaar oud is. Iemand vertel my onlangs na aanleiding van die skets, dat sy pa baie sterk gevoel het oor bepaalde gedrag wat vir Sondae gegeld het en wat kinders spesifiek toegelaat was om te doen.  Hy vertel hoe hy een Sondag ewe vrolik die liedjie Sarie-Marais gefluit het en toe is hy ernstig deur sy pa betig.  Sy pa het hom toe aangesê om voor die skildery van die breë en smal weg, wat in hul gang gehang het,  te gaan staan sodat hy homself kan vergewis van hoe hy hom op ’n Sondag moet gedra. Baie van julle wat hier luister, of lees sal die streng voorskrifte vir ’n mens se gedrag op Sondae kan onthou.

Die tekening hang in ons huis en die teologie is dalk nou so ’n bietjie omstrede, maar aan die linkerkant van die breë weg staan daar: “welkom, ryk van die wêreld, dood en verdoemenis”. En dan volg al die sondes waarmee jy op die pad te doene kan kry, asook al die gepaste Bybeltekste.  Onder ’n deftige sambreel vlak by die poort, sit ’n paar opgewekte manne wat lekker sit en drink en dan daarby die waarskuwende woorde van Jesaja 5:21: “ellende wag vir die wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van drank.”

Verder langs die breë weg is ’n tekening van ’n man wat ’n dier wreed doodslaan, ’n danssaal, ’n loterytafel, ’n skouburg en dan onder andere ’n trein wat in die Paarl gery het. Op die einde die vreeslike vuur en weegskaal wat verdoemend na die een kant toe oorhel. En aan die ander kant die van die tekening is die smal weg met God, die kerk, Sondagskool, ’n kinderhuis en dan later ’n kroon en die Godstad.

En dit is so, vandag glimlag ’n mens eintlik oor die vergelyking en die uitbeelding van die twee paaie.  Miskien lyk die moraliteit en die toepassing daarvan en ’n hele paar ander dinge oor hoe ons die Bybel interpreteer vandag anders, maar een ding kan nie verander nie, daar is ’n breë pad, en daar is ’n smaller pad.

Elkeen van ons moet ons elke dag posisioneer en vra: “Op watter pad bevind ek my?” Matteus 7:13-14. Gelukkig is daar langs die smal pad van die tekening, een afbeelding wat nie verander nie – die kruis. Die simbool van die Christelike kerk. Die kruis van Jesus. Dit is die baken van ons pad. Kom ons maak seker, dat hierdie baken elke dag op ons pad staan.

Gebed:

Ons dank u vir Jesus Christus, wat ons kan rig, deur Sy gees in ons lewe. Amen.